Boesman-Stories. Deel 2, Dierstories en ander verhale by G. R. Von Wielligh

Boesman-Stories.
Deel II.
DIERSTORIES EN ANDER VERHALE
ALLE REGTE VOORBEHOU.
(Twede druk.)
NASIONALE PERS, BEPERK, Drukkers en Uitgewers, Kaapstad, Stellenbosch, Bloemfontein en Pietermaritzburg.
1922.
INHOUD.
No. Bladsy.
’n Paar Woorde vooraf 1
26. Kraai se vernedering 3
27. Die Aasvoëls 15
28. Erdvark, Vlakvark, Kwagga en Bosvark 25
29. Hasie, Tingtinkie en Uil 31
30. Die Boesman en Leeu ontmoet in ’n Spelonk 39
31. Slang en Skilpad is broers 47
32. Leeu, Wolf en Jakkals 53
33. Die Bobbejane en Ape 61
34. Die Sonbesies en Kriekies 69
35. Leeu en Wolf eet oor en weer 79
36. Volstruis word weer lewendig 85
37. Leeu word jaloers 95
38. Perdeby en sy Vrou 101
39. Moeder Leeu en die Kinders 107
40. Boesman-Gedigte 115
41. Leeu binne die Hut by die Kind 121
42. Wolf en sy twee Vroue 127
43. Tier is ontevrede met die Son 137
44. Ystervark en Vlermuis 145
45. Twee in een Skot 153
46. Die Hamerkopvoël en die Swaweltjies 159
47. Die Wolke 167
48. Mierkatte en Erdmannetjies 175
49. Die Boom wat al maande sterf en weer lewendig word 183
50. „Die Dieredans” deur Boesmans uitgevoer 191

[i]

’n Paar Woorde Vooraf.

tans oorhandig ons Deel II van Boesman-Stories aan die geëerde publiek, met die hoop dat dit ’n vriendelike ontvangs mag geniet.

Om die volksvertelling van Boesmans te geniet, moet die toehoorder of leser volkome met die karakter van dié nasie bekend wees. Ons het in die twee Deeltjies wat nou in hande van die publiek is, en met die twee wat hul spoedig sal opvolg, nie alleen getrag om die blote stories te vertel nie, maar het ook terselfdertyd gestreef om die volkskarakter te weerspieël. Dus, ná ons al vier deeltjies Boesman-Stories deurgelees het, sal ons hierdie besondere volksvertellings na waarde weet te skat.

Ons het êrens reeds daarop gewys dat daar wel deeglik verskil bestaan tussen die maniere waarop Hottentots en Boesmans hulle stories vertel. Die Hottentot is ’n pretmaker (humoris) en verstaan die kuns om eienaardighede van diere op grappige wyse te verklaar. Hy tree op as spottekenaar (karikaturis) en lewer ons spotprente (karikature) van ’n taamlik goeie gehalte.

Die Boesman, daarenteen, is weer ’n kunstenaar (arties), en wel na eie kultuur—hoe laag dit ook al mag wees. Hy is selfs musikant en digter wat die natuurklanke getrou kan naboots. Waarlik, hy is ’n kind van die natuur; en sy taal is ’n gawe van God alleen aan hom geskenk, sodat hy hier nie nodig het om van ander te leen nie. Hy graveer [ii]of skilder voorwerpe soos hy dié in die natuur aantref—sonder om pogings aan te wend om daarop te verbeter.

Daarom, as ons sy stories deurlees, dan vind ons hierdie karaktertrek as ’n polsslag wat al sy verhale deur kan gevoel word. Hiermee wil ons nie te kenne gee dat hy enigsins van oordrywing vry te pleit is nie. Nee, sy diere kan ook praat, nes dié van die Hottentot—ja, hulle kan selfs meer doen: hulle kan hulle gedaantes verander. Maar as ons bedink wat die godsdienstige begrippe van Boesmans is, nl. dat die ou geslag hul maklik van Boesman tot dier en van dier tot Boesman kon verander, dan moet ons sulke onnatuurlike of bo-natuurlike verskynsels as volkome natuurlik vir ’n Boesman beskou. Met dit voor hom is hy aan die skep van stories gegaan. Sonder om in die spinnerakke van gissing verwar te raak, wil ons amper beweer dat die meeste van sy vertellings onsigbaar aan werklike gebeurtenisse geknoop is—in ieder geval, dis verdigsels van werklikhede.

Want met deurlees sal selfs die gewone leser bespeur dat die diere hulle rolle nes op die alledaagse toneel speel: Leeu is die gesaghebber en baie sterk; Tier volg hom in rang op; Wolf is onbeskaamd en ’n indringer; en Jakkals is ’n bangbroek, en daarom meestal ’n bedelaar. In die vertellings van Boesmans kom dus, ooreenkomstig hulle begrippe, haas geen oordrywing voor nie. So is Boesman-stories ook maar blote karaktertekeninge, of karaktersketse.

In die bespreking van sulke stories loop die opienies van beoordelaars baie uiteen: die een verklaar dié as blote kinderkamer-sprokies, die ander weer as bloot wetenskaplike [iii]werk; die woorde „soos deur Hottentots vertel” of „soos deur Boesmans vertel” is peper in hulle oë, en hulle verklaar om hierdie rede dat sulke stories vir kinderkonsumpsie (kindergebruik) glad ongeskik is—asof ons vaders en moeders ons terug moes geroep het toe ons outas saans so aantreklik die stories vertel het, en ons ouers self in plaas van die Hottentots en Boesmans vir ons dié stories moes vertel het. En wat het ons dan gekry? Want wie kan ’n dierstorie so aanskoulik as Hottentots en Boesmans vertel?

Die materiaal wat ons versamel het, is ru, dog natuurlik. Saag en skaaf ons te veel daarvan, dan verloor dit sy eienaardige karakter. Lewer ons dit net so in onbewerkte toestand, dan is die enigste aangewese plek daarvoor die boekrak van die ondersoeker van menskunde en volksvertellings. Wat ons egter na gestreef het, is om tussen al die rotse veilig deur te seil, nl. wetenskap aan die een kant, blote vermaak aan die ander kant, en egte volkskarakter vlak voor ons. Hierdie drie eise het oor ons skouer op ons pen gekyk of ons wel getrou aan ons strewe gebly het. En dis vir die publiek om te oordeel in hoeverre of hoe na ons die skyf mis- of raakgeskiet het. Dit, egter, is ons versekering: ons het ons bes gedoen. As die lesers ons poging in hierdie lig wil bekyk, dan is ons meer as beloon vir al ons werk van toewyding.

Die Skrywer.

[Inhoud]

NASKRIF: Toe ek hierdie Deel, op ’n paar Stories na, klaar geskrywe het, is dr. W. H. I. Bleek se Specimens of Bushmen Folklore my in hande geval. Dié boek het onvoltooid ná sy dood verskyn; en sy skoonsuster, mej. Lucy C. Lloyd, het met baie moeite die werk gepubliseer gekry. Dr. Geo. McCall Theal het daarvoor ’n seer belangwekkende inleiding geskrywe.

Dog dr. Bleek het sy werk glad met ’n ander doel geskrywe. Hy het die verskillende tale van die inboorlinge van Suid-Afrika bestudeer; maar toe daar ’n gunstige geleentheid hom aanbied om sy aandag aan die Boesman-spraak te wy, het hy gedoen meer as baie ander sou gedoen het, om sy werk—A Comparative Grammar of South African Languages, waaraan sy hoë reputasie verbind is—terug te sit om eers die Boesman-taal te leer en dan sy kennis daaromtrent aan andere mee te deel. Vir diegene wat die taal van die Boesmans wil leer, sal dr. Bleek se boek baie te pas kom.

Met deurblaai en lees van die Bushmen Folklore is ek getref deur die groot ooreenkoms van die stories deur hom en my aangegee. Want hoe is dit moontlik dat ’n wilde menseras hulle volksvertellings so wyd versprei het en dit so goed bewaar het? Maar by nader ondersoek blyk dit dat dr. Bleek en ek ons materiaal omtrent dieselfde tyd op dieselfde oppervlakte versamel het—net hy het ’n paar Boesmans uit die binnelande naby Middel-Afrika, en ek het een van die Transvaalse Boesmans gehad; en dit het die ooreenkoms bewerkstellig.—Die Skrywer.[3]

No. 26.

Kraai se Vernedering.

(Stories No. 1 tot 25 vind ons in Deel I.)

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n karakterskets, soos die meeste van die Boesman-stories is.

Kraai voel net honger en het ’n siek springbok onder ’n bos sien lê; maar hy sien geen kans om die siek dier dood te maak nie. Hy probeer toe om die bok se oë uit te pik; dog so siek was die springbok nog nie, en hy wou so ’n marteling sonder weerstand nie verdra nie—dus gaffel hy vir Kraai iedere maal met die horings weg. Kraai raak raad-op en gaan hulp soek. Dit sal maar swaar gaan om iemand te kry, want Kraai is maar baie inhalig en gun niemand iets nie.

Aasvoël sit daardie oggend bo-op sy hoë krans, waar hul broei en slaap; en hy sit die wêreld haarfyn na alle kante toe te beskou. Hy wil uitvind of êrens nie ’n dier dood lê nie, want hy en sy famielie voel net honger.

Kraai kom daar aangevlie en plak hom ongereken en ongenooi op een van die klippe neer, en hulle twee vra oor-en-weer na mekaar se gesondheid.

Aasvoël se antwoord is: „Net sleg!” Hy vertel toe verder dat hy die laaste paar dae net ongelukkig was, dat hy met sy vrou en kinders sonder ’n kiesvol kos sit.[4]

Kraai voel somar dat hy by die verkeerde man om hulp kom soek het, want hulle albei voel net ewe honger. Hy dink by homself as hy Aasvoël vra om die bok vir hom (Kraai) dood te maak, dan vreet die Aasvoëls alles op en kry hy niks nie. Hy voel teleurgesteld en word somar in sy hart boos.

„Wat het jou vanoggend so vroeg hierheen gebring?” vra Aasvoël toe hy so ’n skewe blik na Kraai gooi.

„Dit gaan jou nie aan nie! Waarom is jy so vuil—kan jy jou nie was nie? Iemand sou sê daar is glad geen water in die wêreld nie,” antwoord Kraai, en hy soek skoor. Kraai is ’n ou windmaker en kan meer praat as wat hy kan doen. Maar Aasvoël is ’n man wat diep kan dink, en doen meer as wat hy mee voor die dag kom. So gee hy vir Kraai geen antwoord nie, maar draai sy kop weg en sit soontoe te kyk, beskou die rantjies haarfyn en laat sy oë oor die vlaktes dwaal.

Kraai was net vol geselskap. Hy stoot sy bors vooruit, vrywe met sy bek daarop en roep uit: „Ek is pure man; my naam is Jagter Raakskiet. Ek het volop kos en dra ’n blink pak klere!” En hy hou aan om twis te soek.

Aasvoël, wat min van sulke bogtery hou, rek sy nek uit, gee ’n blaas, klap met sy vlerke en storm vir Kraai … en daar trek Kraai, stert in die lug.

Onder in die vlakte ontmoet Kraai vir Leeu. Weer word na mekaar se welstand oor-en-weer gevra. Leeu vertel ook dat hy die vorige nag ongelukkig was: hy het baie moeite gedoen, maar kon geen wildding onder sy naels kry nie; en nou brand sy maag van honger.[5]

Jakkals sê: „Parmante kry niks.”

[7]

Weer bemerk Kraai dat hy by die verkeerde man is om hom te help die siek springbok dood te maak. Hy begin somar vir Leeu sleg te maak en weet te vertel dat Leeu se oë agter op die hakke van sy voete sit; daarom kyk hy die verkeerde pad. Struweling vind plaas, en weer moes Kraai sy stert wys en die vlug neem. Hy gaan toe gou kyk of die siek bok nog daar op die plek lê.

Andermaal probeer Kraai om die bok se oë uit te pik; dog die springbok het nog genoeg krag besit om Kraai te laat proe hoe horing-slaan smaak. Kraai moes maar weer sy rugkant wys en verder gaan hulp soek.

Daar voor kry hy vir Wolf, wat sit en huil. Hy vra vir Wolf waarom hy so hartseer voel en so moet huil.

Hy kry tot antwoord: „Ek voel baie honger—so honger dat ek in een maal ’n olifant kan opeet. Ek soek genoeg, maar kan nie kry nie.”

Nogmaals bespeur Kraai dat hy die regte man maar nie kan raakloop nie. Hy weet dat Wolf gulsig is en nooit sy maat weet as hy by kos kom nie. So begin Kraai somar: „Ek weet waarom jy so huil: jy huil net omdat jy so sleg is. Jy dra jou oë in jou maag, daarom kan jy die baie wild nie sien nie.” Hierop kies hy die wêreld vorentoe.

Daarop ontmoet hy vir Jakkals, wat ewe bly was om vir Kraai te sien. Met vriendelike laggies vra hul oor-en-weer na die welstand. Uit die staanspoor vra Jakkals: „Waar kry jy tog so baie kos om altyd uit die fyn kerf so te blink?” En hy vervolg: „Lank nie gesien nie; toe, trakteer, [8]trakteer! Ek voel so honger dat ek alleen vanoggend ’n hele springbok kan opeet.”

„A, my naam is Jagter Raakskiet; en julle kan by my kom leer om boog vas te hou om wild te skiet.” Hier bly hy stil, want weer vind hy tot sy spyt dat Jakkals nog nie die regte man is om hom met die doodmaak van die springbok te help nie; so word hy meteens parmantig en spog op sy ou manier.

„Maar as daar nie doodmaakgoed is nie, waarvandaan moet ek kos kry?” vra Jakkals bietjie verleë.

„Wat sê jy, is daar nie doodmaakgoed nie? Jy kyk teen jou ooghare vas; want jy eet te baie gom, en daarom is jou ooghare aanmekaar vasgelym.”

„Toe kyk, en sê of jy gom in my oë sien! Maar ek sien in jou oë paddakomberse en skilpadmelk; want jy leef mos van paddas en skilpaaie.”

(Paddakombers is die groen slymplant wat op staande water en vlak strome dryf.)

Kraai voel hom toe ’n bietjie ingeklim, maar kan nie stry nie en skel net en maak keel skoon toe Jakkals op sy gemak wegdraf.

Kraai se dinkertjie staan toe stil: hy kyk voor hom op die grond; hy krap sy kop aan die een kant, dan aan die ander kant; hy pik aan sy een poot; dan pik hy weer aan die ander poot; en hy bevind hom in die middel van ek-weet-nie.

Sonder om daaraan te dink, maak Kraai sy vlerke oop en vlie reguit na die siek springbok om te gaan kyk of hy nog nie dood is nie. Daarheen ontmoet hy vir Bobbejaan, [9]wat na ’n wilde vrugteboom toe stap. „A, hier het ek die regte man!” dog hy; en dadelik sê hy: „Ou maat, Bobbejaan, kom hou jy vir my die siek springbok vas dat ek sy oë kan uitpik, en dan maak ons hom verder dood.”

Bobbejaan het net een dwars kyk na Kraai gegee; maar hy het verder geen erg aan hom nie en stap maar nader na die boom toe.

Kraai, ewe vol geselskap, sê: „Toe, ek sal vir jou die vrugte afpluk en af gooi; kom help my.”

Bobbejaan antwoord toe vir die eerste maal: „Waar jy dink om by te kom, kan ek self klim en die tak nader trek—iets wat jy nie kan doen nie. Toe, loop maak jou eie springbok dood en laat my met rus staan.”

Ook hier was Kraai by die verkeerde kêrel. Hy sit diep te dink, en meteens word sy aandag getrek deur ’n muis wat in ’n voetpaadjie hol. Kraai, wat reeds baie honger het, spring op die muis, vang dit en wou net begin te eet.

Maar Slang kruip onder die bossie uit en roep uit: „Wat vang jy my muis? Gee dit op die daad hier!

Kraai kry meteens ’n plan en antwoord: „Ek sal hierdie muis vir jou gee; maar dan kom jy vir my ’n siek springbok—hier naby—doodbyt. Wil jy nie, dan eet ek self die muis op; want jy het dit nie gevang nie, maar ek. Is al die muise in die veld dan joue?”

Slang beloof plegtig om die bok te gaan doodbyt; maar Kraai moet eers die muis gee. Kraai doen dit; maar ná Slang daardie tamaai groot muis ingesluk het, kon hy nie [10]’n tree verder seil nie: hy moes ’n baie lang tyd stil lê eer die muis in sy maag verteer is, en dan eers kan hy wegkom.

Kraai voel hom toe weer aan die verkeerde ent van die pyl en boog; toe kry hy spyt dat hyself die muis maar nie opgeëet het nie. Vir Slang moet hy nou met rus laat staan, want een pik is genoeg om hom poot te laat omkeer. Die beste vir hom, so redeneer hy, is om met Aasvoël te gaan maats maak; want Aasvoël laat tog altyd genoeg vleisies en seninkies aan die afgeëte bene dat hy (Kraai) genoeg kan kry.

Dog toe Kraai by die springbok kom, was dié al so swak dat hy nie meer met sy horings vir hom van Kraai kan vry veg nie. Kraai pik toe die oë en tong uit, onderwyl die siek bok nog nie dood was nie. Hy het toe genoeg kos daaraan gehad en vlie bo in die boom om daar slim praatjies te gesels. Verder kan hy niks aan die springbok maak nie; want hy is ’n pure bog en kan nie die bok se vel stukkend skeur nie.

Leeu ruik die bloed en kom. Hy begin dadelik te eet.

Kraai roep bo uit die boom: „Wie is daar? Laat staan: dis my springbok wat ek vir my geskiet het!”

Leeu antwoord: „Dis ekke, Leeu! As jy nie met my so parmantig gewees het nie, dan sal ek nog vir jou iets gelaat het; maar nou niks nie!”

Toe Leeu klaar het, kom Jakkals daar en kou die vleis en senings van die bene af.

„Wie is daar? Loop weg! Dis my bok wat ek vir my geskiet het!” roep Kraai net driftig uit.[11]

Jakkals sê: „Parmante kry niks” en steur hom verder nie aan Kraai nie.

Toe Jakkals nog die bloed oplek, kom Wolf daar en begin die bene te kou.

„Wie is daar? Maak dat jy hier wegkom! Dis my bok wat ek vir my geskiet het,” roep Kraai ewe boos uit.

Wolf antwoord terug: „As jy mooi gevra het, sal ek miskien nog aan jou gedink het; maar nou glad nie! Hier is nie eens genoeg kos vir my nie, wat nog te sê vir jou ook.”

Toe eers vind Kraai—al blink sy klere so—tot sy leedwese uit hoe min ander van hom dink en hoe min hul van sy grootpraat en skel maak.[15]

No. 27.

Die Aasvoëls.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n karakterskets uit die lewe van aasvoëls.

Daar was ’n jong Boesman wat doodverlief was op ’n jong Boesmanmeid. Maar die vader van die jong Boesman en die vader van die jongmeid het baie stryery in die jagveld, sowel as tuis, gekry. Daar was amper aldag rusie tussen hulle. So het die vader van die jongmeid later besluit om maar ver weg te trek. Hy maak so en gaan daar anderkant die berge woon.

Nou, die liefde van die jong Boesman vir sy jongmeid, was baie sterk. Elke nag droom hy dat hy kan vlie en dan oor die berge sweef tot waar die ouers van die jongmeid bly. Hy droom dat hy met haar praat en dat hulle so gelukkig saam woon.

Maar die anderdagoggend vind hy uit dat dit maar alles drome is, en dan is sy hart baie seer. Hy probeer dan op alle maniere om te leer vlie. Eendag kry hy dit reg om hom in ’n aasvoël te verander, want hy was een van die Boesmans van die ou geslag.[16]

Hy vaar toe op, op, op in die lug en maak groot draaie in die lug, en hy kyk na alle kante toe. Eindelik vat hy die koers oor die berge en vlie in die rigting waarheen die jongmeid haar ouers getrek het.

Dit geluk hom om die plek te vind. Hy het daar rondgedwaal, dan weer op ’n koppie ’n bietjie gaan rus, tot hy die jongmeid sien water-toe kom. Hy gaan digby haar sit.

Sy kyk verwonderd op en word bang, want die voël hou gedurig sy skerp blink oë op haar gevestig. Sy gryp ’n klip om na die voël te gooi om hom weg te ja. Maar hy verander hom dadelik in ’n Boesman; en daar sien sy dat dit haar minnaar is. Sy was vaal geskrik en bewe van ontsteltenis. Hy vertel haar toe dat hy haar kom haal en dat hy haar ook in ’n aasvoël wil verander. Sy was eers skrikkerig vir die plan. Maar toe hy aan haar vertel dat dit die beste manier is om hulle te verander sodat hulle ouers en die ander Boesmans hulle nie meer kan ken nie, vind sy die plan goed; en sy gee haar voornemens te kenne om eers die water huis-toe te gaan bring en daar te bly om die saak in die dag en gedurende die nagte te oordink. Sy en haar twee jonger susters slaap in ’n klein klipgrot, wat al aande deur haar ouers met klippe toegepak word.

In daardie selfde nag kom daar leeus en val die hutte van haar vader en moeder aan en eet almal op wat daar dié nag geslaap het—net die drie jongmeide, wat veilig in die grot was, het in lewe oorgebly.

Die jong Boesman, toe hy die oggend oor die hutte vlie, gewaar wat gedurende die laaste nag plaasgevind het. Hy val uit die lug met oopgespreide vlerke en kom kyk wat daar [19]werklik gebeur is. Hy hoor die drie jongmeide in die toegepakte grot praat. Hy roep na hulle en maak daardie kliphuis vir hulle oop.

„… Die veld is mooi oop daar waar ’n dooie springbok lê.…”

 

Ná hul met mekaar gesels het oor die treurige gebeurtenis, besluit hy om hulle ook maar in aasvoëls te verander; want dan kan die leeus hulle nie meer snags vang nie, daar hul dan in bome en klipkranse kan slaap. Hy verander hul in aasvoëls, want hulle het ook aan die ou geslag van Boesmans behoor. Hy vat toe die jongmeid vir sy vrou, en die ander twee susters bly toe by die twee wat met mekaar getroud is.

Hulle vlie toe na die berge en gaan by die ander berg-aasvoëls woon. Hierdie laaste berg-aasvoëls was ook vroeër Boesmans van die ou geslag.

Die jongman was altyd baie fluks om te jag; en noudat hy ’n aasvoël is, is hy nog net so uithaler om wild huis-toe te bring. Die ander ou berg-aasvoëls het toe daarop lui geword en het naderhand glad nie meer gejag nie.

Eendag skiet die aasvoëlman (dit wil sê die jong Boesman wat hom in ’n aasvoël verander het) ’n springbok en bring dit huis-toe vir sy vrou en twee skoonsusters. Maar hulle drie gee aan die ander aasvoëls ook daarvan. Toe die man terugkom en sien wat daar gebeur het, raas hy met sy vrou en sê dat die ander berg-aasvoëls maar self kan gaan jag.

Die vrou stry dat dit nie sy is nie, maar wel hulle twee susters, wat groot maters met die berg-aasvoëls gemaak het. Sy neem toe die springbokvel, skroei die hare af, kook dit, [20]en sny dit aan stukke. Toe storm die berg-aasvoëls ook toe en verslind die vel met die grootste vraatsug.

Toe die man terugkom en daarvan hoor, was hy net boos en praat weer met sy vrou daaroor. Sy stry en werp die skuld op haar twee susters, wat so danig maats gemaak het.

Die volgende dag gaan die man weer jag en bring weer ’n springbok huis-toe. Die ander berg-aasvoëls kom saam met die drie susters eet; en toe die man dit later verneem, was hy daaroor andermaal danig ontevrede en praat weer met sy vrou daaroor. Sy, egter, hou vol om te stry en werp die skuld op haar twee susters. Sy neem dié springbokvel ook en brand die hare af en kook dit in ’n pot vir hulle drie om te eet. Dog die berg-aasvoëls wag hulle kans af, storm toe, en in ’n ommesientjie was alles verslind, waaroor die man later ook ontevrede was. Dog sy vrou gooi die blaam—nes gewoonlik—op haar susters.

Toe sê die man aan sy vrou: „So kan dit langer nie gaan nie. Ons twee moet die geselskap verlaat, en jy moet met my saam veld-toe gaan.”

Hulle gaan toe die oggend vroeg weg om te jag.

Die berg-aasvoëls en die twee susters was toe raad-op wat die kos betref. Hulle gaan voor die huise op die klippe sit om raad te hou. Een sê toe aan ’n ander: „Vlie op in die lug om te kyk waarheen die man en vrou gegaan is, en bring ons die tyding of hulle wild doodgekry het.”

„Nee,” antwoord een van hulle, „laat ons die jongste suster stuur dat sy vir ons die tyding bring.”[21]

So vaar die jongste suster (’n klein aasvoëltjie) in die lug op; sy maal en maal bo in die blou lug. Naderhand vat sy koers in die rigting wat haar skoonbroer en suster gegaan het. Sy verdwyn in die verte; en oor ’n hele ruk kom sy terug, val met oopgespalkte vlerke uit die blou hemelgewelf en gaan op ’n rots tussen die ander aasvoëls sit. Hulle vra haar wat sy gesien het.

Sy antwoord: „Ek het hulle gesien—daar ver. Die veld is mooi oop daar waar ’n dooie springbok lê. Maar die beste sal wees dat hierdie ouer suster van my gaan kyk; dan kan sy vir ons beter kom vertel.”

Die ouer suster styg toe op met haar vlerke, draai en draai bo hoog in die lug, en eindelik peil sy in die rigting waarheen haar skoonbroer en suster gegaan het. Spoedig was sy uit gesig; dog oor ’n tydjie keer sy terug, skiet uit die asuurhoogte neer en neem plaas op ’n groot klip tussen die ander aasvoëls. Duidelik vra die hongerige pakkasie watter nuus sy te vertel het.

Sy antwoord: „Ek het ’n groot oop vlakte gesien; die stamme van die bome is hoog kaal. Op daardie vlakte lê ’n springbok dood; en my skoonbroer en my suster is ’n ent daarvandaan.”

Toe roep algar tegelyk: „Goeie tyding, goeie tyding! Kom laat ons op die daad gaan.”

Hulle sprei hulle vlerke oop en trek op ’n tou daarheen. Gou het hul die springbok kafgeloop.

Die jongste suster sê: „Ons moet ’n dik en lekker stuk vleis vir ons getroude suster laat staan. Sy het mos [22]nie rusie met ons gemaak nie, maar wel haar man. Waarom moet ons haar ook straf?”

En die ouer suster roep uit: „Ja, daar sien ek haar aankom. Ja, dis regtig sy daardie!”

Maar die ander berg-aasvoëls was te uitgeëet en laat toe niks agterbly nie as net die afgestrookte geraamte.

Toe die man en sy vrou terugkom, vind hul net die geraamte van die springbok daar. Hulle voel neerslagtig, maar gaan dadelik weer ander wild soek.

Die ander dag het net dieselfde ding oor gebeur. Die ander aasvoëls het weer alles opgeëet en net die blote bene laat agterbly.

Die man en vrou het toe ver weggevlie—buite die bereik van hulle maters; en hulle woon nou saam met aasvoëls wat gesamentlik kos soek.[25]

[Inhoud]

No. 28.

Erdvark, Vlakvark, Kwagga en Bosvark.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n kort karakterskets van Erdvark en vertel veral waarom Kwaggas en Vlakvarke saam wei. Die ou Boesman-verteller sê dat die storie kom van waar ’n groot rivier sonop loop (waarskynlik die Sambesie).

Erdvark neem vir hom ’n vrou uit die vlakvarke. Hy het nie voortande nie, daarom is hy skaam en bang dat die ander vir hom sal uitlag; so soek hy maar sy kos in die nag. Sy vrou weer, Vlakvark, soek haar kos oordags en wou nie eers met hom trou nie; sy sê: „Ek werk in die dag, maar snags wil ek slaap.”

Hy antwoord daarop: „In die dag wil ek nie rondloop nie, want dan lag hul vir my groot ore en spot my omdat ek geen tande het nie; maar kom, gaan maar saam met my: ek sal jou leer om goed in die nag te sien, daar ons altwee aan die ou geslag behoor.”

Sy laat haar ompraat en gaan met Erdvark mee. Hulle gaan toe veld-in en neem hulle knapsakke saam. Hy grawe boesmanrys (jong miere), en sy soek veldkos. As hy boesmanrys kry, dan moet sy vir hom die knapsak [26]kom oophou dat hy die rys daarin kan gooi; maar as sy veldkos afpluk of uitgrawe, dan moet sy maar alleen die veldkos in haar knapsak sit, want soveel verstand het Erdvark nie om hand by te sit nie.

Sy praat met hom daaroor; dan maak hy ekskusies en sê dat hy self so danig besig is, daarom het hy sy plig versuim. Maar naderhand sê hy: „’n Vrou moet toesien om maar self klaar te kom.” Dit het ’n bietjie stryery veroorsaak, dog alles was weer gou oor.

Hy kry weer boesmanrys, en sy moet weer kom help, en sy doen dit ewe gewillig. Hulle soek nog verder en kry weer rys. Hy grawe dit uit; en sy kom hom, soos gewoonlik, help. Daarop stap hulle verder; onderwyl pluk sy een streek deur veldkos en grawe wortels uit en vul haar knapsak.

Naderhand was Erdvark se knapsak so vol dat daar niks meer kan in nie. Voor hul die rys ingooi, krap hul altyd eers die grond en kluitjies uit en neem net die skoon rys.

Hy sê toe vir haar om die sak andermaal te kom oophou; maar sy antwoord: „Jou knapsak is al vol al; waar wil ons nog plek kry?”

„Nou bring dan jou karos wat jy oor jou rug dra,” was sy antwoord en bevel.

„Nee,” werp sy teë, „dit kan ek nie doen nie; want ons vlakvarke loop nooit sonder ons rugkaros nie.”

„Ek sê jou, bring jou rugkaros hier om die rys op te gooi,” was sy bevel ’n bietjie kwaaier.[27]

„Ek sê jou mos ons vlakvarke loop nooit sonder ons rugvelkaros nie! Begrawe maar die rys in die grond en oordek dit met grond,” was haar besliste antwoord.

„Nou vir die laaste maal: ek beveel jou om jou rugkaros hier te bring om die rys op te gooi,” was die streng gebod.

„Ek kan dit nie doen nie, al wil ek ook; en dan, dis nie ons vlakvarke se manier om kaalrug te loop nie,” sê sy op nog beslister manier.

Erdvark vlie haar by en trek met sy groot naels haar rugvel amper af. Toe kom haar ingewande uit; sy huil, en hy word bedroef en roep uit: „Ag my vrou, ag my vrou! Wat het ek gedoen?”

Sy steek haar ingewande in en trek die afgeskeurde lap vel weer op die plek waar dit was, en sy lê en huil.

En toe dit na dag se kant toe raak, sê die moeder van die vlakvarkvrou aan haar ander dogter: „Ek het die hele nag ’n stem gehoor—’n stem wat die wind vir my bring; dis ’n stem van gehuil en jammer gekerm. Loop kyk of dit nie die stem van jou suster wat by Erdvark is, is nie; want dit gaan vir my of dit sy kan wees. Jy weet Erdvark is maar dom en kan nie planne maak nie. Hy het seker weer iets onnosels aangevang. Toe loop; en kom gou terug en kom vertel wat gebeur is.”

Die dogter vlakvark hol gou en was spoedig terug. Sy roep van ver uit: „Ma, ma, dit is my suster! ’n Stuk van haar rugvel is halfpad afgetrek, en Kwagga staan by haar.”

Die moeder skrik, staan in alle haas op en hol na die plek toe. Toe sy daar aankom, vind sy Kwagga nog by haar siek dogter staan; en sy roep van ver uit: „Wat het gebeur?” Al haar kinders het agter haar aangekom; en ook haar man, wat ’n ent daarvandaan was.

Kwagga antwoord dat dit Erdvark se werk is en dat hy vir Erdvark gekap, geskop en weggeja het. En die siek dogter bevestig dit. Toe tel hul haar versigtig op en lei haar saggies na haar moeder haar huis toe, waar sy lank siek gelê het, maar beter geword het. Dog Erdvark het sy goed laat agterbly en het nie gewaag om sy vrou weer te kom haal nie. Van toe af wei die vlakvarke en kwaggas saam.

Erdvark het baie spyt oor die aanval op sy vrou. Hy stap toe rond van radeloosheid, en hy ontmoet toe vir Bosvark, wat ook in die nag rondloop. Hy probeer om een van die bosvark-meisies vir ’n vrou te neem; maar deur hul goed in die nag kan sien en weet wat hy gedoen het, so wou hul hom nie hê nie, en hulle algar bespot hom, sodat Erdvark tot vandag toe nog as eensame swerweling snags ronddwaal en nog altyd besig is om boesmanrys bymekaar te maak. Maar sy knapsak het hul afgeneem, en nou moet hy alles opeet wat hy uitgrawe.[31]

[Inhoud]

No. 29.

Hasie, Tingtinkie en Uil.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n karakterskets van Hasie, Tingtinkie en Uil. Die bygeloof dat Uil dinge vooruit weet, word hierin verhaal.

Hasie was altyd ’n mannetjie wat op opskep geloer het. Van jag het hy nooit gehou nie; maar dans was sy voorland. Hy rinkink die hele nag deur en oordags, wanneer gejag moet word, dan slaap hy sy lyf uit. Soos die son haas ondergaan, staan hy op, begin weer te baljaar en is tevrede net met veldkos, wat hy teen sononder pluk. Het hy daarvan genoeg, dan begin die gejakker weer tot skimmeldag toe. As hy nie sy veldvrugte kan kry nie, dan is hy met pure gras ook tevrede. Deur hy te lui is om water te gaan skep, is die dou en sapperige plante voldoende om sy dors mee te verslaan. Soos die son uitkom, kruip hy in sy huis, wat hy diep onder ’n graspol of ’n digte bossie maak. Of anders soek hy ’n ou verlate en vlak erdvarkgat op en kruip daar weg om sy lyf nie van die warm sonstrale te laat brand nie.

Dat Hasie nou so ’n afgetrokke lewe ly, is hy self die skuld van; want vroeër het hy net so min van werk gehou. As dit opskeptyd is, is hy by; aljimmers is hy by die [32]waterpotte, of die springbokpens, waarin die water gebêre word, en drink hom knuppelversadig. Maar meegaan veld-toe of waterhaal het nie in Hasie se wit broek gesit nie. Daarom, waar hy kom, ja hul hom weg; want hy was ook mos die parmantjie wat gedurf het om met Maan te stry en te weerspreek dat algar weer sal lewendig word ná hul ’n ruk dood is. Oor hierdie ding het hul hom baie gehaat.

Nou het ons die ding afgepraat waarom Hasie so verstote in die wêreld lewe—selfs sy vrou en kinders woon nie by hom nie.

Toe hy so lekker op ’n warm dag onder die koel bossie lê, sien Tingtinkie hom daar; en hy begin somar met Hasie te korswel en spot. „Wat slaap jy nog?” vra Tingtinkie. „Dis mos tyd nou vir elke man om in sy werk te wees. Jag jy dan nie? Wat doen jy om die sous en soppies van jou vleis te verdien?”

Aag, moenie met my kom lol nie! As my lyf nie so seer en moeg van die dans is nie, dan het jou vere lankal in die wind gevlie,” merk Hasie op toe hy sy kop optel en dit weer neerlê.

„Wat, dans? Kan so ’n kiesvol as jy is, dan ook dans?” sê Tingtinkie met ’n kwint-nadruk in sy stem.

„Gô!” brom Hasie. „Jy noem my kiesvol, maar vergeet jouself.” Hy sit meteens regop en roep uit met spoggerige stem: „Toe, durf bring jou ramkie hier en klink vir my hier af Die Kwagga wat trippel; dan kan jy sien hoe ek daardie riel uitkerf.” Meteens gee Hasie ’n paar bokspringe om te wys hoe askoek-slaan lyk en hoe rats hy dit kan doen.[33]

 

… „Toe hy so lekker op ’n warm dag onder die koel bossie lê..

[35]

„Ek sal dit so nooit doen om vir Slaap-in-die-Kooi my ramkie op te mors nie; maar wel vir Jag-in-die-Veld sal ek ’n riel van my lyf af wegskuiwe,” sê Tingtinkie met ’n spotagtige klank in sy stem.

Al wat Hasie hierop sê, was: „A so!” en hy kruip ewe lui weer in sy huisie onder die bossie in.

Tingtinkie kon Hasie maar nie met rus laat nie—aljimmers is hy daar om Hasie uit die slaap te wek. So het dit gegaan tot die son sak en hom skaars maak. Toe kom Hasie se beurt om Tingtinkie, wat nie in die donker kan sien nie, uit die slaap te hou. Tingtinkie se huisie hang bo aan ’n hoërige bossie, en elke maal skud Hasie aan die tak. Tingtinkie skrik, vlie in die donker uit en stamp hom orals teen die bossies soos hy vlug. Dan neem dit weer ’n geruime tyd om die huisie terug te vind. Pas is hy daarin gekruip, of hier is Hasie weer; en dit is maar weer net so—Tingtinkie vlug en fladder daar tussen die takkies rond.

Dag ná dag, en nag ná nag het dié geterg tussen Tingtinkie en Hasie so voortgeduur, tot Hasie moeg geword het; en Tingtinkie het glad die stuiptrekkings van al die vrees gekry. Toe weet Hasie met ’n laggie te vertel dat dit nie hy is wat snags vir Tingtinkie so bang kom maak het nie, maar dat dit wel Uil is wat dit gedoen het. So kom arme onskuldige Uil aan die pen. Tingtinkie gaan toe al die voëls vertel dat dit Uil met sy groot oë is wat vir hulle snags die dood op die lyf kom ja. Die voëls glo dit ook, en hulle los vir Hasie en kom Uil in die dag pla en terg.[36]

Nou, die regte ding is nou eintlik só: Hasie was in sy jong dae die seun wat met Maan gestry het om te sê as iemand dood is, dan is hy dood en word nie meer lewendig nie. Tingtinkie was in sy kindsdae baie ongehoorsaam en wou nie altyd na sy ouers geluister het nie, maar het van die veldvrugte gaan eet waarvan sy ouers hom gesê het om nie te eet nie. Die gif van daardie vrugte het toe gemaak dat hy nie meer gegroei het nie; daarom het hy altyd die grootte van ’n kind behou, al was hy naderhand al oud. Uil was ’n ou towenaar; maar hy het sy bevoegdheid te buite gegaan deur dinge te doen wat hy moes gelaat het. Toe het ’n groter en magtiger towenaar hom dom gemaak en het hom so baasgeraak om sy mag te breek en dit van hom weg te neem. Maar om dinge vooruit te vertel, kon hul van Uil nie wegneem nie. Uil weet tot vandag toe nog wat daar ver aangaan en wat binne ’n maand sal gebeur. En hy kom dit verseker aan die betrokke persone vertel deur naby hulle huise te sit en hoe-hoe.[39]

[Inhoud]

No. 30.

Die Boesman en Leeu ontmoet in ’n Spelonk.

OPMERKINGS:—Al die storievertellers verhaal dieselfde storie nie op dieselfde wyse nie. So word in baie gevalle dele van een storie by ’n ander gevoeg. Wanneer verskillende verhale met mekaar vergelyk word, dan kry ons min of meer ’n idee hoe ’n storie inmekaar sit. Hierdie storie is ’n karakterskildering van die gedrag van Leeu.

Leeu behoor ook aan die ou geslag en kan baie fyn planne maak om aan sy kos te kom. Hy kry eendag, toe die son ondergaan, ’n plan om reën te maak; hy laat die lug donker toetrek, sodat iemand nie sy hande voor sy oë kan sien nie. Ja, daardie aand word dit so donker, so donker, of iemand hom agter in ’n kliphuis in ’n stikdonker nag bevind. Baie het ook daardie aand glad so verdwaal dat hul hulle huise nie kon vind nie. En moenie praat hoe dit reën nie!—dit lyk of ou meide en knopkieries tegelyk uit die lug val.

Een Boesman het glad sy pad verloor. Hy wis wel dat hy naby ’n spelonk, of kliphuis, was; maar waar dit juis is, dit kon hy op die oomblik nie sê nie.[40]

Leeu merk toe dat die Boesman na die klipgrot soek. En daar dit so sterk reën en koud is, hol hy vooruit en gaan die Boesman in die plek afwag deur agterin te kruip.

Leeu was nat en koud: hy rittel soos hy bewe; en toe hy warm word, voel hy vakerig en val vas in die slaap, maar bly nog altyd so sit.

Die Boesman, wat nog altyd aan ronddwaal was, kry eindelik die plek en kruip met sy goed op sy rug voel-voel binne. Maar hy hoor iemand—miskien meer—hard asemhaal asof hy slaap. Dog die asemhaling was te hard en diep om dié van ’n mens te wees, so luister hy met gespanne aandag. Hy kan egter nie met sekerheid verklaar wat dit is wat so swaar asemhaal nie. Hy besluit om baie saggies nader te kruip om sy hand effentjies op die persoon of ding te lê. Hy voel en plaas sy hand op ’n harige iets. Hy skrik; dog om seker te wees, voel hy nog ’n keer. En, jou waarlik, dit is niemand anders as Leeu nie—’n tamaai knewel!

Saggies, soos ’n kat, kruip hy terug en stap voel-voel op die puntjies van sy voete die spelonk uit. Hy het nog nie sy goed neergesit nie, so het hy nie lank versuim nie.

Hy voel aan sy hart wat nou gaan gebeur: Leeu sal sy ruik kry en sal hom agtervolg. Daar hy min of meer weet waar hy toe was, kon hy ’n bekende pad volg en moes daar voor deur ’n stroom swem; want Leeu is maar ’n bietjie vies vir waterstrome.

Leeu skrik wakker toe hy die Boesman se ruik kry. Met ’n geknor en brul bespring hy die plek waar die ruik [41]nog vars is; hy vang met sy voorpoot in die donker rond; maar alles wat hy mee in aanraking kom, is net skone lug. Leeu word woedend en brul binnensmonds, dog hardop. Dadelik gaan hy op die ruik van die spoor en druk vinnig op om die Boesman in te haal. Hy kom voor die waterloop, en dis vol. Toe kry hy ’n bietjie spyt dat hy so danig baie laat reën het. Hy moes daar lank vertoef om deurgaanplek te kry.

Onderwyl het die Boesman deurgeswem en het met ’n bekende pad voel-voel in die pikdonker aangedruk om ’n plek te bereik wat hy goed ken. Hy sien ’n vuurtjie brand en dog dat dit die plek of die oog van Leeu is wat so sterk in die donker blink. Asemloos steek hy vas, en sy hart klop tot in sy keel. Wat nou gedoen?

„Dood is ek, dood!” sê hy by homself. „As dit Leeu is, kan ek nou nie ’n steek verder vlug nie.”

Naas die Boesman was ’n diep klipskeur; hy breek ’n doringtak af, kruip in die skeur en trek die tak voor hom in die skeur sodat Leeu hom nie kan bykom nie.

Hy het nie te lank gelê nie, of hy kom tot die oortuiging dat die lig wat hy sien, ’n regte vuur is; want hy het dit altyd in die oog gehou. Maar om nou te vlug om daardie vuur te bereik, is nie aan te dink nie, daar Leeu nou te baie tyd gekry het om hom in te haal. Dis bitter koud, hy voel nat; maar wat anders kan hy doen as om tot dag toe in daardie donker skeur te lê?

Pas het die gedagte deur sy hart gegaan, of die flou maan skyn deur die wolke en maak ’n grou lig—en hier staan Leeu regtig met sy twee blink oë vlak voor die skeur. Hy roep: „Kom uit, of ek kom jou daaruit sleep!”[42]

Die Boesman kruip nes Skilpad in sy dop—of liewers gesê: in die klipskeur. Dis ’n benoude uurtjie.

Gits! hier hoor hy ’n geritsel agter hom—daar is nie takke om te keer nie. Hy draai sy kop haastig om, en toe sien hy ’n syskeur; en daar skyn ’n dowwe lig in. Hy hoor stemme van Boesmans; en toe kruip hy dieper in, kronkel hom in die sygangetjie en sien ’n groot opening met ’n ander inkomplek. In die groot opening brand ’n heerlike vuur, waarby twee Boesmans, wat ook verdwaal het, lê en slaap. Maar hulle het ook vir die gebrul van Leeu wakkergeskrik: hulle sit nou regop en gryp na hulle pyle en boë.

Die Boesman in die skeur praat toe gou om te laat verstaan dat hy nie Leeu is nie. Het hy dit nie gedoen nie, dan was hy so waar ’n kind van die dood; want die twee by die vuur sit net klaar om met hulle gifpyle in die skeur in te skiet waarin hy gekruip het. Hulle was bly om mekaar in so ’n gevaarlike oomblik te ontmoet.

Die vuur word groter gemaak om meer lig te gee en om stompe vuur te kry om Leeu mee te gooi as hy durf nader kom. Leeu het ook nie gewag nie: hy het om die klipstawel van groot rotse kom loer, dog was baie bang om die Boesmans by die brandende vuur te storm: vuur is sy moses.

So roep hy uit: „Stoot daardie man uit wat gedurf het om my in my huis te kom pla; hy is hier, want sy spore hou hierso op!”

„Kom haal jy hom maar self hier uit as jy man genoeg is om hom hier uit te kom vat,” sê die ander twee by wyse van grootpraat.[43]

Leeu blaas deur sy baard—so woedend word hy; dog hy staan uit vlakte se kant toe, want hy is vir daardie stompe vuur net so versigtig as wat ’n slang vir pypolie is. Hy stap toe sonder om geraas te maak daar ver om die plek en hou hulle gedurig dop of hulle nie huis-toe sal gaan nie, of ’n onbedagte oomblik hom nie ’n kans sal gee om tussen hulle in te spring, een te pak en met hom weg te stap nie. Maar daarvoor is oom Boesman te oulik: hulle bly by die vuur sit, al het die brandhout amper opgegee—en huistoegaan is nou net min by hulle.

Toe die son uitkom, stap Leeu nog daar ver om die klipkoppie; dog toe die aarde heeltemal onder die gloed van lig lê, stap Leeu ewe teleurgesteld na sy huis toe in die digte bosse of riete; want so dapper as hy is, sal hy dit nie somar waag om ’n man in die helder daglig te kom pak nie. Dit het die Boesmans in die geleentheid gestel—toe Leeu ’n ruk weg was—om ook na hulle huise en gesinne toe te gaan. En daar was groot blydskap.[47]

[Inhoud]

No. 31.

Slang en Skilpad is Broers.

OPMERKINGS:—In hierdie storie word die leefwyse van Slang en Skilpad in ’n karakterskets weergegee. Hierdie verhaal is ons meegedeel deur ’n Transvaalse Boesman.

 

Daar was twee ou Boesmans van die ou geslag. Elkeen het ’n seun gehad. Maar die seun van die een was ’n onnut; en die seun van die ander was knap met jag, en hy kon mooi dans en ramkie speel. Dit het die jaloersheid tussen die ouers van die twee seuns gaande gemaak.

Eendag kry die een vader—nl. die vader van die onnuttige seun—die goeie seun in die veld alleen. Hy pak hom met verraad, sny die arms en bene van die goeie seun af, vat sy mooi gebreide karos en gee hom ’n ou stuk harde buffelvel in plaas daarvan. Die ou stap toe weg en vertel niks daarvan aan die ander Boesmans nie.

Die goeie seun het toe nie meer arms en bene waarmee hy kan jag, dans en musiek maak nie. Hy moes maar so goed of sleg as hy kan, rondkruip en toe maar van veldkos lewe. Hy het baie verdrietig gevoel en het baie spyt van sy mooi karos, en nou moet hy met die hardgeworde koue buffelvel klaarkom. Hy het toe die groot Bosveldskilpad geword.[48]

Die vader van die goeie seun gaan sy kind oral rond soek. Hy kry wel vir Bosveldskilpad, maar hy ken hom nie; ook het hy nie geweet dat dit sy kind is nie.

Dieselfde ou Boesman kry weer ’n seun; maar daardie seun was ’n kwaaikop en nie so sagsinnig as sy broer nie. Aan sy ouers was hy wel gehoorsaam; maar van die vader van die onnuttige seun wou hy niks verdra nie, dog hy was darem versigtig vir hom en bly uit sy pad.

Die vader van die stout seun was ’n ou towenaar-man en reënmaker. Ook kon hy hom in enige ding verander, net soos hy lus kry. Hy verander hom in ’n pragtige voël, wat rooi en geel, blou en groen, wit en swart vere het. Hy gaan daar in die veld op ’n boom naby die jongste broer van Skilpad sit en sing. En hy pronk met sy mooi vere.

Die jong broer sien die mooi voël wat so pragtig sing; hy kry somar gedagte dat dit die ou towenaar-man moet wees. Hy staan stil om te kyk of daar kans is om hom met pyl en boog dood te skiet. Hy bekruip die voël en kom digby.

Dis net wat die ou towenaar-man wou gehad het. Hy vlie van die boom af, verander hom in die ou Boesman, en pak die jong broer van Skilpad en sit hom onder.

Hy sê toe: „Jy sien die son daar! Jy moet nou mooi kyk hoe hy lyk; want dis die laaste dag dat jou parmantige oë hom sal sien en dat jou parmantige mond sy naam sal noem.” Hy sny toe die kop van Skilpad se broer af en sny hom van onder na bo in twee stukke, sodat aan die een stuk ’n arm en ’n been bly, en net so aan die ander stuk liggaam [49]van die broer van Skilpad. Hy laat die twee stukke so lê en stap weg sonder daarvan aan andere iets te sê.

Die son gaan onder, dit word donker, en die maan kom uit. En Jakkals kom by die stukke liggaam om daaraan te eet. Maar Maan, wat self al maande lewendig word, giet van sy dou op die twee stukke; en die been en arm van elke stuk rek hul uit, en elke stuk word ’n lang Bosveldslang. Albei slange staan somar met Jakkals reg; hy vlug, en die twee slange begin toe rond te seil, iedereen sy eie koers.

Die vader word onrustig toe sy ander seun ook nie huis-toe kom nie; so gaan hy hierdie slag ook weer soek. Hy kry die groot Bosveldslange; hy ken hul nie en weet nie dat dit sy ander seun is nie. Van toe af het hy geen seuns meer nie.

Maar Skilpad het geweet dat hul sy broers is; so maak Slang en Skilpad tot vandag toe nie rusie nie.

Eendag loop die stout seun van die ou towenaar-man in die veld rond; hy sien vir Skilpad en tel hom op om hom te gaan braai. Dog een Bosveldslang sien dit; hy bekruip die onnuttige seun, woel sy lang lyf om die stoutert, druk van sy ribbe stukkend, spuug hom nat met sy slym, en begin die onwettige seun van die voete af in te sluk.

Maar die stoutert het nog so veel krag besit om stadig sy een been opsy te trek, sodat Slang nie albei bene gelyk kan insluk nie. Slang begin die stout seun van die voet af in te sluk; en toe hy die een been heeltemal ingesluk het, toe eers gewaar hy dat die ander been nog buite is. Hy [50]spuug die been weer terug, draai die onnuttige seun weer bymekaar en wou weer van die voete af begin te sluk.

Dog andermaal trek die seun sy een been opsy, sodat Slang hierdie slag weer net een been te pak kry. Toe Slang die een been binne het en nie verder kan sluk nie, stoot hy weer die been terug uit sy bek en begin weer die twee bene naas mekaar te plaas.

Net toe kom die towenaar-man sy seun soek; hy kry hom net toe Slang met hom besig was. Toe Slang dit gewaar, staan hy met die ou Boesman reg; dog die ou man raak Slang baas en maak hom dood. En op hierdie manier was hy net in tyd om sy stout seun van die dood te red. Dog daardie seun het sy hele lewe mankoliek gebly: hy het altyd skeef geloop.

Skilpad het dit alles stilswyend aanskou. Hy is weerloos—dit wil sê hy kan hom nie verdedig nie, anders as net om in sy dop te kruip as hy gevaar bespeur. So het hy met hierdie gedoente gevlug en hom onder ’n bossie gaan wegsteek. Sy famielie ken hom nie, so stap hy maar treurig en eensaam deur die veld alleen. Hy leef van veldkos en drink dou en die sop van sapperige plante en het glad verleer om water te drink; want as hy op ’n baie warm dag by water kom, dan druk hy somar sy hele kop onder die water om te drink.[53]

[Inhoud]

No. 32.

Leeu, Wolf en Jakkals.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n duidelike skildering van wat Leeu, Wolf en Jakkals doen as hulle wild vang.

Leeu is ook een van die ou geslag; daarom is hy Leeu. Sy maters om te jag, loop maar min rond. Hy is man! Ek sê: hy is man! Wolf kan ook jag, hy kan ook iets in die hande kry; maar waar Leeu nog bly staan en sê: „Durf nader kom!” daar het Wolf al lankal rieme neergesit en gehol dat hy klein word. Van Jakkals is nie eens te praat nie! Hy is ’n bedelaar, hol vir die kleinste geritsel en kan dan sulke fyn draaie om die bossies maak dat hy somar hierso-hierso by jou wegraak.

Eendag toe die son ondergaan, staan Leeu van sy slaapplek op, rek hom ewe lui uit en begin teen die wind op te snuiwe. „Arrie, vrou, ek ruik kwaggas—ek ruik hul hier naby; toe kom jy en die kinders maar agter my aan en hol nader net so gou ek die kwagga teen die grond het.”

Hy stap teen die wind op; en toe hy die kwaggas deur die bome en bosse sien wei, gaan hy koes-koes nader en gaan hul voorlê. Toe die Leeu-vrou dit sien, weet sy haar tyd: sy gaan saggies om, maak die kwaggas skrik; hul vlug, en daar het haar man ’n kans. Hy spring uit sy [54]skuilplek op, en met een spring sit hy bo-op ’n kwagga. Hy slaan sy naels diep vas in die vel en pak sy prooi met die tande agter die nek, sodat hy die dier teen die grond laat val. ’n Worsteling vind plaas, en die wyfie kom by. Dit het nie lank geduur nie, of hy was oorlede kwagga.

Toe storm die twee of drie kinders by: hulle brom en knor so woedend asof hulle die wild gevang het. Die twee oues skeur die vel van die kwagga plek-plek weg om vir hulle en die kleintjies vreetplek te kry; dit is nie eet nie, maar wel gulsig vreet.

Wolf en Jakkals, wat toe ook al by hierdie tyd op die rondsnuffel is, het gou die bloed geruik, die rumoer van die kleintjies gehoor—en hulle draf nader.

„Asseblief, Leeu, gee tog vir my ook ’n stukkie,” vra Wolf.

„En vir my ook ’n stukkie,” smeek Jakkals.

„Wat praat julle daar? Die kinders raas so dat ek vir julle nie kan verstaan nie. Kom nader,” sê Leeu met ’n knik in sy oog, asof hy wil sê: „Durf tog asseblief nader kom, dan kan julle sien hare waai en hoor huil en tjank.”

Die twee waag dit; hulle kom stert tussen die bene smeek-smeek aan, dog voel darem nie alte perdgerus nie.

„Waau! Haau!” was al wat Leeu sê toe hy probeer hoe diep hy sy naels in Wolf se vel kan inploeg. Wolf huil en vlug.

Jakkals sê net: „Die deksels!” en staan daar ver op die vlakte.[55]

 

„Asseblief, Leeu, gee tog vir my ook ’n stukkie,” vra Wolf. „En vir my ook ’n stukkie,” smeek Jakkals.

[57]

Wolf staan te huil: „Hoe-hoei! Hoe-hoei!” toe hy sien hoe manhaftig Leeu hom staan nakyk, tong aflek en weer gulsig gaan vreet.

Jakkals het dit op sy senuwee, en in die verwarring staan hy te tjank: „Haaa … eina! Soe-eina!” en dan begin hy meteen in ’n lag deurslaan: „Ha-ga-ga! Ha-gè-gè, ha!”

(Die Boesmans kan die geluide beter naboots as ons dit kan neerskrywe.)

„Oe .. è! Oe .. e!” brul die oues binnensmonds. „Njirr, njirr! Ma-au, ma-au!” knor die kleintjies soos hulle dreig. (’n Klein leeutjie meeu net soos ’n kat.)

Wolf staan kop in die lug en huil. Hieroor vererg Leeu se vrou haar, en sy maak ’n draai onder Wolf en die tjankende Jakkals, wat by hierdie tyd gaan sit het en kop in die lug met uitgesteekte tong sit tjank—maar sonder trane.

Die twee neem ’n vaart veld se kant toe dat die bossies so kraak. Dog toe hul die wyfie weer aan vreet sien, kom hul voetjie vir voetjie nader en snuiwe in die lug of hul betaal word. Maar kans kry om ’n lekkie te steel, is net verniet.

Jakkals en Wolf het toe al hotkant-toe en toe haarkant-toe gestaan; maar nou ja die groot lus hul somar alkant-toe. Hul moes maar behoorlik wag tot Leeu en sy gesin klaar met eet het en versadig wegstap om onder die naaste boom te gaan lê om te kyk wat nou gaan gebeur.

Toe draf Wolf en Jakkals gulsig nader en val weg.[58]

„Hier, jou kring!” roep Wolf teen Jakkals uit, „wie het jou verlof gegee?” En Wolf hol al agter Jakkals om die aas, hap-hap na hom. Plek-plek byt hy raak; maar mees hap hy net die lug raak; en wat nie weghol nie, is Jakkals.

Leeu kom onopgemerk saggies op die puntjies van sy vier voete en vlie onder die twee rusiemakers in en roep uit: „Wat is dit hier met julle twee te doen?” Jakkals kry ’n paar skrams krappe, en Wolf kry genoeg daarvan om sy hare te laat waai—en daar spaander hul. Leeu se vrou bars uit van lag, en die kinders skater en rol van die pret.

Leeu brul deur sy baard, gee ’n paar lekke aan die bloed en gaan weer by sy vrou en kinders onder die boom lê.

Ná Leeu en sy vrou vir Wolf en Jakkals genoeg tempter het, laat hul die twee maar hulle eie gang gaan. Wolf sien toe dat dit hom beter betaal om sy lyf by die vleis en murgbene te weer as om Jakkals daarvan weg te hou.

Jakkals, weer, weet goed dat dit hom nie betaam om te naby Wolf te eet nie. Hy is mos ’n bedelaar en lewe van bedel; daarom gaan hy sit, hou sy kop in die lug, steek sy tong uit en sit dan te tjank om sy hart in verdriet uit te stort. Maar nou hou hy een oog op die aas om te kyk waar die lekker vleisies en seninkies sit, en die ander oog hou hy op Wolf gerig om te loer wat dié doen. Al wat hy voor te sôre het, is net: as Wolf eenkant van die aas eet, dat hy dan aan die ander kant wei.

Ja, dat hul nou so slim is, is omdat hul eers ook Boesmans gewees het wat nou Leeu, Wolf en Jakkals geword het.[61]

[Inhoud]

No. 33.

Die Bobbejane en Ape.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is miskien nie een van die oudste nie; want dit kry met witmense te doen. Ons verhaal dit egter net soos die ou verteller dit aan ons meegedeel het. Dit skilder sekere karaktertrekke van bobbejane en ape af.

Wat lyk tog meer na die menslike geslag as bobbejane en ape? Dit kan ook nie anders nie, want hul is ou Boesmans van die ou geslag wat vir hulle in daardie diere verander het.

’n Bobbejaan is amper so slim as ’n mens. Hy kan net tot soveel tel as ’n Boesman, naamlik tot drie—verder gaan dit onder die naam van baie (of soos die Boesman dit uitdruk: nie min nie). As die bobbejane gaan kos soek, dan gaan ’n oue bo-op ’n hoë plek sit om skildwag te hou. Soos hy onraad gewaar, moet hy alarm maak. Kom daar gevaar en hy skree nie, bewaar dan sy gebeente as die ander hom weer in hande kry, dan moet hy krul! ’n Bobbejaan hou gedurig sy oë op sy kinders as hul saam met die klomp wei; vir die geringste oortreding of skynbare foutjie moet die stof uit sy hare vlie. Ja, bobbejane is strenge ouers en sien niks deur die vingers nie. Maar hulle is soms onbillik teenoor hulle kinders; want as die [62]kind ’n lekker stukkie kos kry, soos ’n skerpioen waarvan hy die stert afgepluk het, dan pak die pa of ma hom agter die nek, steek die voorvinger in die kind se mond en grawe die lekker stuk kos uit die kind se kiessakkie en eet dit self op—vandaar dat die kind so hard skree as hy weerstand bied, sodat die bergklowe daarvan dreun.

Ape, weer rig ander spektakels aan. Hulle is nie so raserig as bobbejane nie. Hulle woon graag waar hoë bome is en waar water naby is. Vlug hul in bome, dan kyk hul eers waar hulle kinders is, en roep is genoeg vir die kind om aan die moeder vas te klou as sy die takke inspring; en hulle steek hul dan agter dik takke weg. Op die weiveld kry die arme kinders nie so baie slae nie; dog hulle moet deeglik na hulle pasoppertjies kyk, of dit mis nie dat hul ’n pluk aan die stert of ’n oorkonkel kry nie. Eer hul hol, staan hul regop op hulle agterpote rond te kyk.

Daar het eendag jagters van die sononder-kant (van die see-kant) gekom, en hulle het ’n Boesman-kind gevang en met hulle saamgeneem huis-toe. Die jagters was witmense, en hulle het die Boesmantjie Jantjie genoem, en hy het lank by hulle gebly.

Jantjie was maar ’n Boesman en het eers nie kan verstaan dat sekere goed net aan een persoon mag behoor nie: by Boesmans is net sy pyle en boog, sy vrou en kinders, sy velle en kieries syne, verder behoort die grond, die wild, die veldkos en water aan algar saam. So het Jantjie ook gedog toe hy by die witman kom, dat hy net maar kan vat wat sy oë sien. Hierdie ding wou die witman nie toelaat nie, wat [63]tot gevolg gehad het dat Jantjie se sitplek baiekeer vir hom warm gemaak geword het. Hy maak toe later plan om weg te loop, en dae tevore pak hy stilletjies kos in sy knapsak. Hy steel brood, meel, koring, vleis, vis en net wat hy skelm-skelm in hande kan kry—vernaamlik tonteldose en vuurslae, messe en tabak.

Die landstreek waardeur hy moes terugvlug, was deur ape en bobbejane bewoon. Die ape het langs ’n groot rivier gewoon en was glo ou Korannas wat ape geword het. En die bobbejane het in die ranteveld geboer en was glo ou Boesmans wat in bobbejane verander het, wat nou net van veldkos en goggas lewe.

Toe Jantjie by die rivier kom waar die ape woon, sien hulle hom. Die een sê aan die ander: „Kom ons loop die man voor: hy dra goed; laat ons hom doodmaak en die goed afneem.”

„Toe, toe, kom ons gaan!” skree algar gelyk, en hulle met hulle vrouens en kinders hol die man voor. Hulle was baie—nie min nie—, en Jantjie was alleen.

„Wat moet ek nou doen?” vra Jantjie homself af; want vir ’n aap kan niemand padgee nie.

Die kinders sien koringkorreltjies uit ’n klein gaatjie in die sak val; hulle tel dit gretig op en roep uit: „Maak hom dood en gee vir ons die lekker pitjies wat in daardie sak is!”

Die ou ape gryp latte en woel onder die kinders en sê: „Julle is kinders; moet julle só teen ’n man praat? As die goed moet verdeel word, dan vat ons grotes dit, en nie julle [64]kinders nie.” En die ape was verder net parmantig met Jantjie, en hy wis nie vooruit nog agteruit nie.

Weer roep ’n kind uit: „Gee vir my daardie blink ding wat net soos ’n ster blink (die blikemmertjie).”

Die kind kry ’n pluk aan sy stert om sy mond te hou.

Toe Jantjie hoor van „blink ding,” toe kry hy somar gedagte dat ape bang is vir ’n groot geraas. Hy kry moed en begin met die ape te korswel en spot. Hy vra: „Waarom is julle bakkiese so swart? Kan julle dit nie was nie? Kyk, net bokant julle oë is die vel nog wit as jul julle oë so agtertoe ooprek.”

Dit maak die ape woedend, en hulle roep uit: „Kom, storm hom!”

Meteens slaan Jantjie op die blikemmer en maak ’n duisenddaalder-lawaai. Die ape skrik en vlie kortom; die kinders tjank, die oues die roep boontoe en skeur die veld vorentoe. Hulle vlug die hoë bome in, en so kry Jantjie kans om te ontvlug. Voor hy stap, maak hy die emmertjie vol water en koes toe na sy ou huis toe.

Van hier lê sy pad deur die ranteveld, waar die bobbejane woon. Dit mis ook nie: ’n ou skildwag het hom gou gesien aankom. Hy roep uit: „Daar stap ’n man met goed agter sy rug!” Algar staan op hulle agterpote; sommige gaan sit om te kyk. Hulle gewaar hom.

„Kom ons gaan hom voorkeer!” roep algar gelyk uit, ná hul nogmaals op hulle agterbene gestaan rondkyk het, en ná hul Jantjie nog gewaar.[65]

Toe die oues by hom kom, volg die wyfies en kinders in ’n trein agter die ou mannetjies aan, en hulle kom ook kyk. Hulle was ook nie min nie, en Jantjie was nog alleen.

Jantjie skrik en word somar bang; want daar was baie groot knewels onder hulle. Hy vlug in ’n boom. Nou kan hy nie op sy blikemmertjie slaan nie, want dit is vol water; en gooi hy die water weg, dan sal hy swaar dors kry, en wat maak hy dan?

„Wat dra jy daar?” vra die ou grotes, en hulle sê: „Gee dit vir ons!” Daarop wil hul somar die boom inklim om die goed af te neem.

Jantjie moet nou ’n ander plan smee; en ná hieroor en daaroor gou te dink, kry hy ’n goeie plan, daar hy weet dat bobbejane baie bang is vir gewere. Hy word toe geruster.

„Pa, pa!” roep die kleintjies uit, „die man het so ’n mooi ronde kop; maak hom dood en gee vir ons die kop om mee te speel; want dit lyk so hard en sal nie gou breek nie.”

„Sal jul julle monde hou! Julle is kinders, en hoe durf julle so van ’n uitgegroeide man praat?” merk die ou skildwag op toe hy oorkonkels en oorwakse regs en links uitdeel.

Die kinders sit ’n keel op en tjank dat die klowe daarvan antwoord gee. Die moeders hol toe en pluk die kleingoed aan die ore en hare, en die geskree word nog eens so lewendig.

Jantjie begin toe die bobbejane uit te koggel, en met ’n laggie sê hy: „So ’n klomp lelike gevrete het ek nog nie so naby my gesien nie. En, o, kyk hoe lyk julle oogbanke! Nes ’n krans aan die voorkant van ’n rant. Ga, ga, ga![66]

Arrie, staan tru met julle plat en agteroor voorkoppe!” Hy lag dat hy so skud.

Dit maak die bobbejane nog ’n bietjie nydiger, en hulle storm somar die boom om Jantjie daaruit te pluk.

Toe roep hy: „Boer, boer, bring jou roer! Hier is die lelikerds wat jy na soek—kom gou!”

Daar was toe nie skildwagte uitgesit nie, so weet hul nie hoe die wêreld rondom lyk nie. Dus, sonder om nog rond te kyk, kies hul koers na die bergkranse toe om daar te gaan sit „Hoggem! Hoggem!” Onderwyl ontvlug Jantjie na sy huis toe.[69]

[Inhoud]

No. 34.

Die Sonbesies en Kriekies.

OPMERKINGS:—Hierdie storie vertel die geskiedenis van die Sonbesie, wat in die Boland „boomsingertjie” en in die Karoo „doringbesie” heet.

As iemand vir sy kinders baie ly, dan het die pa of ma die kind ook baie lief. En gaan sulke kinders dood of dwaal hul weg in die veld, dan treur hulle ouers net baie oor hulle. Dit was die geval met ’n ou Boesman en sy vrou.

Hulle het nog maar een kindjie gehad—’n klein jongetjie. Die vader en moeder gaan eendag boesmanrys (jong miere) grawe, en hulle neem die kind saam. Die kind raak vas aan die slaap; die moeder haal hom van haar rug af, bind hom in haar rug-karos en lê hom in die skaduwee onder ’n bos. Sy en haar man was druk besig om boesmanrys uit te grawe. Hulle was so druk aan grawe dat hulle oë net by hulle werk bly.

Meteens sien hul ’n leeu by ’n hartbees lê. Hy was reeds versadig geëet; hy staan op en stap reguit na die kind wat onder die bos vas aan slaap is. Hy tel die karos met die kind op, stap daarmee weg en gaan daar naby onder ’n [70]boom naas die kind lê en stert roer. Hy het gedog die kind was dood; daarom hou hy net die ouers in die oog om te sien wat hulle sal doen.

Die moeder wou ’n beroerte van die angs kry. Die vader het net nog drie gifpyle by hom en daarmee moet hy spaarsaam omgaan. Hy koes weg en kruip so plat op die grond as hy kan, tot by ’n dik boomstam. Hy hou hom baie smal, en kruip nader na die boom toe. Die leeu het hom toe nog nie gewaar nie; maar hou een streek die moeder in die oog.

Maar toe die vader by die dik boomstam kom, gryp hy so rats as ’n aap die bobbejaantou wat teen die boomstam oprank; hy klim wat hy geleer het, om buite die bereik van die leeu te kom.

Dog die leeu het hom toe gewaar; hy staan op en swaai sy stert heen en weer, en hy storm die boom. Die vader klim haastiger; die bobbejaantou ruk bo los, en die vader kom ’n ent teen die stam af; maar gelukkig, die tou bly bo vas. Maar tog, die vader het soveel gesak dat die leeu hom ’n raps met sy naels oor die voet gee, en die bloed stroom.

Toe die vader bo in ’n mik van die boom sit, vat hy korrel met sy pyl en boog; hy skiet op die leeu, dog die pyl skram teen ’n takkie weg, en dit was mis. Nou het hy nog net twee gifpyle.

Die leeu hap na die pyl, begin te brom en kort brulle te gee. Toe word die kind wakker en begin angstig te huil. Die leeu wil daarheen hol; maar die vader maak asof hy wil afklim, en maak ’n lawaai en gooi sy karos neer. Die [73]leeu vlie kortom en pak die karos. Toe neem die vader mooi sy kans om te skiet, dog weer skram die pyl teen ’n takkie weg, want die plek waar die Boesman in die boom-mik sit, was maar bra ongemaklik.

„Hy tel die karos met die kind op en stap daarmee weg.…”

 

Hy het nou nog maar net een pyl, en daarmee moet hy omgaan asof dit die kosbaarste van alle kosbaarhede is. Weer maak hy ’n groot lawaai om die aandag van die leeu te trek; die leeu kyk op met oop bek. Nou het hy ’n pragtige kans, waarvan hy sonder versuim gebruik maak; en hy tref die toornige dier met die gifpyl diep in die keel.

„A, nou het hy sy pruimpie binne!”

Hy brul en gaan te kere. Dog die Boesman maak elke keer of hy wil afklim, om die bose dier daar te hou. Dit duur nie lank nie; die gif van die pyl trek, en die leeu slaan neer toe hy ’n paar tree weggestap het.

Toe die vader uitroep: „Nou is die leeu dood!” toe spring die moeder van haar wegkruipplek op, en hol na haar kind, wat nog al die tyd lê huil; want hy was nog baie klein. Sy gryp hom en hol al wat sy geleer het, reguit huis-toe. Die vader het die leeu afgeslag; het soveel vleis as hy kan dra, huis-toe gebring; en het toe weer die ander vleis dadelik gaan haal; want ’n Boesman eet enige ding—tot slange toe.

Wel, jare het verstryk; en die moeder het weer ’n kindjie—’n meidjie hierdie slag. Toe die meidjie al kan rondspeel, gaan die moeder daar by die fonteinplek matjiesgoed sny om matte van te maak. Die kind het daar rondgespeel; sy het te naby die gat water biesies gepluk, en die [74]watergees het uitgekom en het die kind in die gat water ingetrek. Die kind huil; die moeder hoor dit, en sy spring in die water om haar kind te red. Sy het met groot lewensgevaar met die watergees geworstel; dog sy red haar kind en swem met die meidjie, uitgeput en halfdood, kant-toe. Daarop hol sy huis-toe en laat alles in die steek. Sy was verskrik, maar tog baie bly.

So kan ons sien, die vader en moeder het groot gevare oor hulle kinders uitgestaan; en daarom het hulle die twee kinders so liefgekry. En die kinders, aan hulle kant, was baie gek na hulle dapper ouers; daarom was hul so gehoorsaam.

Die vader kon baie mooi viool speel, en die moeder het geleer om die ramkie goed te speel. Hulle het dié musiekinstrumente van springbokvel gemaak, wat hul eers haaraf gemaak, skoon uitgeskraap, en toe oor ’n kalbasdop getrek het. Die snare het hul van die derms van die bok gemaak, en die strykstok van die sterthare van ’n kwagga.

As die ouers so speel, dan kom die twee kinders voor hulle ouers dans; en dit was vir algar, o, tog te mooi. So het hul baie plesierige aande en nagte om die veldvuur deurgebring—vernaamlik as die vader die dag ’n goeie jag gemaak het.

Eendag was die twee ou volk nie fris en op hulle stukke nie; hulle stuur toe die twee kinders veld-toe om veldkos te soek en te bring. Die kinders bly lank weg; toe die son ondergaan, was hul nog nie terug nie, en toe word die twee ouers net ongerus. Hulle roep en skree; maar wat nie antwoord nie, is die kinders.[75]

Die ander dag het hulle gaan soek, die dag daarop, en die dae daarna, maar vind niks nie—die kinders is spoorloos tot vandag toe nog weg. Andere help soek, dog alles tevergeefs! Hulle roep en roep, skree en sing, speel viool en ramkie, maar alles verniet: daar kom geen antwoord nie. Die vader en moeder het later meer kinders gekry, en die kinders help ook nou om na hulle boetie en sussie te soek.

Die vader gaan toe na Hamerkopvoël, wat alles in die water kan sien, en vra hom waar sy twee vermiste kinders is. Hamerkop het in die water gekyk, en hy kyk vandag nog; maar hy verklaar dat hy hulle nie kan uitvind nie, dog raai die vader aan om maar aan te hou roep. Hy moet in die dag soek, en sy vrou dit in die nag laat doen.

Die moeder gaan toe na Uil, wat ’n groot towenaar is, wat kan vertel wat gebeur het en wat nog sal gebeur. Uil het sy dolosse gegooi, hy sit diep oor die saak te dink; maar sy dolosse en sy verstand staan hier stil. Hy raai haar ook aan om maar in die nag te roep en soek en haar man dit in die dag te laat doen.

Hierdie huisgesin treur baie; hulle eet min, want hulle harte is seer van verdriet en al die huil en roep. Die vader en sy seuns soek en roep nou in die dag, terwyl die moeder en haar dogters in die nag soek en roep.

Hulle het van verdriet so uitgeteer dat die vader en sy seuns nou die sonbesies is, en dat die moeder en haar dogters nou die kriekies is. Die leeu en die watergees is nou die ongediertes en visse wat goggas vang.

Die sonbesies sing en soek vandag nog oordags.

En die kriekies sing en soek vandag nog oornags.[79]

[Inhoud]

No. 35.

Leeu en Wolf eet oor en weer.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is om iemand te leer om vir kos nie suinig te wees nie. Daar kom ’n dag dat hy net so verleë raak en slegter daarvan afkom as wat hy die honger persoon behandel het.

Wolf was die hele nag uit op die jag, maar was baie ongelukkig om geen wild op die lyf te loop nie. Teen dagbreek se kant toe kry hy Leeu se spoor, en hy volg dit; want hy weet Leeu is ’n gelukkige man en kry altyd kos.

Leeu het ’n kwagga gevang, het hom versadig geëet, en lê ’n entjie daarvandaan teen ’n bos. Wolf voel somar bly in sy hart om nog vleis aan die kwagga te sien; want dit was te veel vir Leeu om in een slag op te eet.

So begin Wolf meteens om ’n gesellige praatjie met Leeu aan te knoop; hy vertel dat hy na sy broer gaan kuier het, dat hy die broer nie tuis gekry het nie, so het hy weer na sy siek suster gaan kyk; maar sy was toe reeds lankal dood. Nou is hy haastig om by sy huis te kom. Hy vertel toe dat met die afwesigheid van sy gesin van huis het hy daar niks te ete en te drinke gekry nie.

„En nou is jy seker honger?” vra Leeu.

„Dis nie altemitters nie,” was Wolf se antwoord.[80]

„Ja, dit spyt my; maar wat kan ek daaraan doen,” sê Leeu.

„En daar lê dan nog meer as ’n halwe kwagga,” merk Wolf op.

„Ja, maar dit moet ek vir my vrou en kinders hou,” werp Leeu teë, toe hy hom ewe lui en versadig uitrek.

Wolf kyk na Leeu, kyk na die kwaggavleis en kyk weer met ’n watermond terug na Leeu en vra: „Is daar dan nie vir my ’n paar murgbene nie?”

„Kom, sê my eers, waar woon jy?” vra Leeu.

„Dis nie so ver van hier nie—daar onder daardie krans in die wolwegate,” was die vriendelike antwoord.

„Kry jy daar baie kos?” vra Leeu weer, net om die tyd om te praat en om Wolf nog meer lus te maak.

„O ja, kos genoeg! Die een dag volop en die ander dag weer minder; maar altyd genoeg om vet op te bly,” antwoord Wolf.

Leeu draai sy kop en kyk daar dié kant en gee geen antwoord nie. Hy luister wat Wolf nou sal sê en wens dat hy maar moet loop.

Weer praat Wolf na die kos se kant toe en vra of die kwagga vet is en of Leeu hom maklik in die hande gekry het, en hy spreek verder die wens uit dat hy graag van die murg sal wil proe as Leeu hom maar net wil toelaat.

Leeu vertel dat hy die kwagga baie maklik gevang het en sê: „Bly hier lê, dan gaan ek vir jou van die murgbene haal. Bly hier, hoor jy! Versit jy een voet uit jou spoor, [81]dan draai ek om en jy kry niks nie,” sê Leeu toe hy wegstap kwagga-toe.

Leeu gaan wél ’n murgbeen haal; maar watter soort? Hy bring een waarvan hy self die murg uitgesuig het, en gee die skoongekoude been aan Wolf met die woorde: „, eet.”

Wolf bekyk die been, gee ’n paar lekkies daaraan, en vra of Leeu nie liewers vir hom wil toelaat om die soppies by die kwagga op te lek nie. Waarop Leeu antwoord dat hyself so danig gek na sop is en nie ’n druppel daarvan wil weggee nie.

Toe vra Wolf weer ’n been om saam te neem om daar voor te gaan fyn kou. Leeu gaan een haal wat ook reeds afgekou is, waaruit die murg uitgesuig is en waaraan die kwagga se klou nog vassit, en sê: „, vat dit; basta bedel. Toe loop!”

Wolf bespeur toe dat Leeu hom weer gefop het, so sê hy: „Ek sal maar stap, sodat ek vroeg my huis kan haal. Nou vra ek jou, broer Leeu, om môre by my te kom eet.”

Met die huis-toe draf, kom Wolf ’n trop volstruise teë; hy vang een en kon hom toe versadig eet. Wat hy nie kon baasraak nie, sleep of dra hy saam na sy huis toe.

Toe hy die volgende dag vir Leeu haas verwag, sit hy ’n pot op die vuur en kook van die volstruis se vleis. Hy met sy vrou en kinders eet die vleis op en laat die sop vir sy vriend Leeu staan.

Toe hy vir Leeu nog ver sien aankom, gooi hy van die sop in ’n ander pot uit om koud te word. Hy gooi nog [82]meer water in die pot wat op die vuur staan, en stook dit met ’n wakker vuur tot dit borrel soos dit kook.

Toe Leeu naby was, haal Wolf die kokende pot van die vuur af en sit dit naas die een waarvan die sop al koud geword het, en hy staan vir Leeu af te wag.

Toe Leeu hier naby hom was, roep Wolf: „Môre, môre, broer Leeu! Jy kom net in tyd! Ek het ’n vet volstruis vir ons gevang, en ek het jou nie vergeet om die lekker murgbene wat jy gister vir my gegee het nie. Het jy weer kwaggas gevang?”

„Nee, daar is baie, maar ek eet nog al die tyd aan die vet kwagga van gister,” antwoord Leeu, doodtevrede met homself.

„Maar jy het in elk geval nou lus vir volstruissop, dit weet ek,” merk Wolf op toe hy die pot met koue sop vat en aan sy vrou sê: „Hou oop jou mond dat ek vir jou eers sop gee.” Hy gooi toe sop in haar mond, en sy sluk só dat haar keel knoppe-knoppe maak. Daarop sê hy aan sy kinders: „Kom julle hier; hou julle monde oop, dat ek ook vir julle sop gee.” Die kinders kom op ’n ry sit, en Wolf gooi sop in die mond van een kind ná die ander. Daarop sit hy die leë pot neer en sê aan Leeu: „Nou kom ons aan die beurt; ons het tyd en kan op ons gemak drink—jy eers, dan ek.”

Daarop neem Wolf die pot met die kokende sop en vra aan Leeu om reg te sit. Leeu maak so. Toe keer Wolf die pot met kokende sop oor Leeu se kop om en druk die warm pot boonop vas oor Leeu se kop. Leeu se oë verbrand, sy mond en keel verbrand. Hy slaan neer teen die grond. Toe vat Wolf sy kierie en slaan Leeu verder dood. So kom ’n gemene daad altyd weer op ’n man se eie kop terug.[85]

[Inhoud]

No. 36.

Volstruis word weer Lewendig.

OPMERKINGS:—In hierdie storie word ons voorbeelde van die opstanding van die dooie meegedeel.

Daar was ’n Boesman bekend as een van die beste jagters van sy tyd. Misskiet was ’n onbekende iets by hom—Raakskiet was sy naam. Op ’n sekere dag gaan Raakskiet veld-toe om te jag; toe hy ver in die veld was, voel hy siek. So kaduks het hy gevoel dat hy besluit om om te draai en maar terug huis-toe te gaan. Hy voel lam, en sy mond voel net droog.

Hy stap kop voor die bors en dink nêrens oor nie. Toe hy hom kom kry, was ’n volstruismannetjie agter hom. Die voël gee ’n geweldige blaas en wou hom net skop en trap. Dog hy val plat en gaan op die grond lê. Die voël, met sy skerp borsbeen, gaan op hom sit en frommel hom asof hy hom tot ’n voetsool wil platdruk.

Onder die worsteling bespeur Raakskiet dat dit nie ’n gewone volstruis is nie, maar een wat iets in hom besit wat vreemds is. Toe die voël moeg was om vir Raakskiet so te kneus, staan hy op en gaan naas Raakskiet wei, maar hou hom gedurig in die oog. Die minste beweging wat die Boesman maak, is die voël by om hom nog verder te kneus.[86]

Raakskiet kry die plan om hom dood te hou om die volstruis ’n kans te gee om weg te gaan. Toe hy so lank stil lê, word die voël gerus en begin toe verder en verder te wei. Raakskiet loer na sy boog en pyle; maar met die skop en trap van die voël het die snaar van sy boog gebreek. Toe maak Raakskiet ’n plan om sy goed te vat en saggies onder ’n digte bos te kruip.

Hy kry dit reg. En toe hy onder die bos was, het hy kans om goed rond te kyk; hy sien toe dat die mannetjie na twee volstruiswyfies stap wat besig was om vlerke oor hulle nes te klap. Raakskiet pluk toe van die takke van die bos af en bind hom daarmee toe, sodat hy self na ’n bos lyk. Op hierdie manier het hy na sy huis toe ontsnap.

Hy voel toe net siek en vertel aan sy vrou en kinders die wederwaardigheid wat hy met die volstruis deurgemaak het. Daarop gaan hy in sy karos op velle in sy hut lê.

Die vrou was kwaad vir die voël en roep uit: „So moet jy dit nie laat bly nie. So gou as jy beter voel, moet jy jou boog regmaak, reguit na die nes toe stap, die volstruise doodskiet, en hulle en hulle eiers huis-toe bring; ek en die kinders sal help.”

Deur die man siek lê, moes die vrou en kinders kos in die veld gaan soek; ’n klein jongetjie bly by sy siek vader om hom te versorg. Ná almal veld-toe was, sien die kleinjonkie daar oorkant op die gras ’n baie klein hasie rondspeel. Hy hol daarheen om die hasie vir hom te vang, en hy bly lank weg.[87]

„Sonder om verder te versuim draf hy veld-in.”

[89]

Intussen voel sy vader se keel nog maar droog; hy roep na sy kind om water te bring, maar die kind was nie daar nie.

Toe kruip Raakskiet self na die gat water wat daar naby is, en met die drinkslag val hy vooroor in die water en verdrink. Met die huistoekom van die moeder en haar kinders kry hul die kleinjonkie net toe hy die hasie vang en daarmee huis-toe stap. En die kleinjonkie was baie bly oor sy hasie.

By die huis kry hul vir Raakskiet nie; hulle soek en soek en vind hom in die water dood lê. Hulle haal hom uit, rol hom op die grond; hy bly dood, en hul laat hom naas die gat water in die sonskyn lê om warm te word.

Die moeder het die kleinjonkie ’n afgedankste drag slae gegee en gesê dat hy die hasie moet doodmaak, want die hasie is kos waarmee nie mag gespeel word nie; en dan, die dood het in die wêreld deur ’n hasie gekom.

Dog die kind wou sy hasie nie doodmaak nie, maar hou aan daarmee te speel. As die diertjie sy oortjies so vorentoe en agtertoe trek, dan is dit vir hom tog te mooi. Sy ma stuur hom toe om by die ander gat water te gaan haal. Hy was altyd ’n gehoorsame kind; hy sit sy hasie neer en gaan die water haal. Solank hy weg was, maak sy ma die hasie dood. Toe hy terugkom, huil hy bitterlik daaroor.

Maar net toe word sy vader, Raakskiet, weer lewendig. Hy rig hom op, sit in die sonskyn en word by elke asemhaling gesonder. En toe hy daar opstaan, makeer [90]hy niks nie. Hy maak toe somar uit die staanspoor sy boog reg om die volstruis, wat hom getrap het, te gaan skiet.

Toe hy gereed was, stap sy vrou en kinders mee om die vleis en eiers te help dra. Toe hulle digteby die plek kom, bly die vrou en kinders agter; hy bind weer bossies om sy lyf, en so verskalk hy die volstruise, wat druk besig was om hulle nes sag te maak deur die kluitjies wat daarin lê, stukkend te byt. Die wyfies stap weg, dog die mannetjie bly by die nes; so kry hy net die mannetjie onder skoot. En toe hy dié skiet, vlug die wyfies heeltemal weg. Raakskiet en sy gesin sny toe die voël aan stukke, sit dit op hulle koppe en neem die eiers ook mee huis-toe.

Die vrou trek toe die vere af en plaas dié op ’n bossie. Hulle begin somar te braai en eet. En toe hul die hele volstruis opgeëet het, kom daar ’n geweldige warrelwind. Die wind neem al die vere weg en warrel dié rond, hoog in die lug. Een veer was swaar van die bloed en kan nie so hoog in die lug rondwals nie, maar kom af, warrel en warrel tot dit in die gat water val waarin Raakskiet die dag tevore verdrink het; en dit swem op die water, terwyl dit daar deur die wind rondgemaal word.

Raakskiet en sy gesin sien dit en slaan ag op daardie veer. Terwyl hulle nog staan en kyk, verander daardie bloederige veer in ’n klein volstruisie. Hulle beskou wat aangaan, en sien die diertjie kry donsvere; die donsvere groei en word langer. Die voëltjie stap sukkel-sukkel uit die water; want dit was nog pieperig en swak, en sy beentjies was nog baie sag; en hy gaan op die wal bewe-bewe [91]in die son sit. Hy word sterker en sterker, hy groei en groei. Onderwyl word sy bene en ribbe, sy nek en rugstring harder en harder. Dit het nie lank geduur nie, of hy was ’n volwasse voël, met swart en wit vere oortrek—net soos ’n gewone volstruismannetjie. Sonder om verder te versuim, draf hy veld-in, reguit na sy eie huis toe.

Toe hy daar kom, brom hy om aan sy vrouens te vertel dat hy nog leef. Hulle ken somar sy stem, kom met vlerkgeklap hom in gemoet en was bly om hom weer lewendig te sien. Hy maak toe ’n ander plan en gaan nog ’n derde vrou haal. Van toe af was daar altyd twee voëls by die nes: twee wyfies gaan wei, en dan is een by die mannetjie by die nes; dan kom daardie twee weer terug, en die mannetjie en die wyfie gaan weer wei. Daar het altyd ’n omruiling op een of ander manier plaasgevind, so was dieselfde wyfie nie altyd by hom nie.

Hy en sy drie wyfies het toe op ’n ander plek gaan nes-maak, want hulle was vir die ou plek bang. Raakskiet het wel geweet waar die nuwe nes is; maar uit bygeloof was hy bang om daarheen te gaan. Hy was bevrees dat die volstruis hom weer sal betower, dat hy weer sal siek word om in die water te val. En dalkies kom hy hierdie slag nie weer by nie, maar bly dan vir altyd dood, dood, dood.[95]

[Inhoud]

No. 37.

Leeu word Jaloers.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n staaltjie van die verwaandheid van Leeu.

Die leeus kom dikwels in geselskap bymekaar, en dan prys hulle vroue altyd die ape vir hulle ratsheid, die gensbokke vir hulle vlugheid, en die volstruise vir hulle mooi stem om te brom (of brul). Dit het die mannetjie-leeus maar min aangestaan, en hulle word daaroor baie jaloers.

Hulle gee toe hulle ontevredenheid daaroor aan hulle vroue in die volle geselskap te kenne; dog die leeuwyfies hou vol dat hulle gelyk het, en dat hulle mans nie kan stry nie. Daarop sê die leeumans toe: „Gee ’n fees en ’n dansparty, dan kan julle self van naby dit aanskou en hoor.”

„Goed!” antwoord die vroue. „Maar pas op dat julle daar nie met skande van afkom nie.”

Hulle maak die nodige voorbereidsels vir die fees daar en dan en nooi vir Aap, Gensbok en Volstruis om op ’n bepaalde tyd daar te wees.

Toe die fees haas ’n aanvang sou neem, kom Aap tussen die takke van bome aangespring; hy glip en wip [96]soos ’n sprinkaan van een boom na die ander en was in ’n ommesientjie daar.

Die vroue klap hande en juig vir Aap toe; maar nie vir hulle mans nie. Die mannetjies van die leeus kon nie so rats spring nie, en dit laat hul somar uit die staanspoor sleg voel; maar hul reken op wat hul later sal doen. Ook met die dansery het Aap hul uitgestof.

Hier kom Gensbok aangehol. Hulle belê onmiddellik ’n resies; dog Gensbok hol skoon voor die Leeus weg. Weer klap die vroue vir Gensbok hande en nie vir hulle mans nie. Dit laat die leeumans nog ’n bietjie slegter voel.

Eindelik kom Volstruis aan. Hy was nog ver, toe begin hy al brul. Dadelik klap die vroue hande en roep uit: „So mooi en helder kan julle tog nie brul nie. Volstruis brul met sy volle longe; maar julle brul met julle mond asof jul ’n been in julle keel of julle stert in julle bekke het.” Hulle hou maar aan hande klap.

Die mannetjie-leeus brul toe, maar die vroue wil nie vir hulle mans hande klap nie; maar net soos Volstruis voor hulle kom brul, klap hulle hande en juig Volstruis toe.

Dit maak die mannetjies bepaald boos, en hulle begin binne in hulle harte te skel en hulle vrouens te verwens. Een leeu bevlie vir Aap en krap die hare van sy sitplek af, die ander leeu bespring vir Gensbok en krap hom merke in sy gesig, terwyl die derde leeu besig was om vir Volstruis te takel; hy krap al die vere van sy heupe af. Daarop stap die drie mannetjies weg en laat hulle vrouens met die klein kindertjies agter. Toe hulle drie wegstap, [97]roep hul terug: „Nou kan Aap, Gensbok en Volstruis, wat jul algar so danig prys, vir julle en julle kinders sôre.”

Die vrouens roep agterna: „Dis glad nie nodig dat hulle vir ons moet sôre nie: ons kan sonder hulle klaarkom en vir onsself sôre.”

Die leeus gaan toe net volstruise jag om hulle longe te eet, sodat hul net so mooi as Volstruis uit die voorbors kan brul. En ná hul baie volstruislonge geëet het, toe brul hul nie meer asof hulle sterte in hulle monde of bene in hulle kele het nie.

Die vroue met hulle klein kindertjies het dit swaar gekry om kos te vang en terselfdertyd na die kinders te kyk; hulle begin toe al sterk na hulle mans te verlang, wat so braaf vir hulle en hulle kinders gesorg het, al het die mans nie so danig mooi na hulle sin gebrul nie. Dit is maar kleinighede, en hul sal nou maar snags luister waar hulle mans brul; want toe verstaan hul eers dat dit juis die fout is wat hul in hulle mans vind, wat hul nader na hulle weldoeners bring. Dit het hul baie moeite gekos om by hulle mans te kom, want die kinders is swak om na die mans te loop. Hulle neem hul toe voor om nie weer met hulle weldoeners te spot nie; maar wel om hulle te prys waar hul goed doen, en stil te bly as die mans nie iets beters kan doen nie.

Toe hul by die mans kom, stap dié weg; dog hulle roep agterna en beloof om beter in vervolg te handel. Toe draai die mans om, want hulle was baie gek na hulle kinders. Van toe af, as Volstruis brul, klap hul nie meer [98]hande nie; en as hulle mans brul, dan voel hul groots en prys hulle, want dis tog harder as enige ander stem.

Dit het vir ’n lang tyd so goed gegaan, en almal het die ou rusies vergeet, en algar voel plesierig. Maar een vrou begin weer met haar dingetjies. Hierdie slag begin sy te veel na haar man se sin vir Kwagga se maanhare en Langnek-kameel se kuif te prys; daarop begin sy weer met haar man se maanhaar te spot.

Hy word toe so boos op sy vrou dat hy haar aan die kophare pak en haar daaraan rondsleep. Hy het haar so rond en bont gepluk dat amper al haar kophare uitgetrek was. Wat gebly sit het, het uitgeval, sodat sy vir ’n tyd glad kaalkop rondgeloop het. Ná verloop van tyd het sy weer kophare gekry; maar glad nie weer so lank as wat dit tevore was nie. Die ander wyfies het so bang en versigtig geword dat hul ook hulle kophare afgesny het; daarom is hulle hare vandag nie meer so lank as dié van die mannetjies nie.[101]

[Inhoud]

No. 38.

Perdeby en sy Vrou.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is amper op die model van ’n Hottentot-dierestorie, dog die Boesman-herkoms is te duidelik.

Daar was ’n ou Boesman wat gelukkig met sy ou vrou en kinders gelewe het. Hy was ’n kriewelkop; maar as hul nie met hom lol nie, dan was daar nie ’n beter man as hy nie. Dog sy ou vrou was bepaald verspot. Haar grootste vermaak was om haar kinders in hulle gesigte voor andere te prys. Nou, soiets is mos ’n baie slegte trek in ’n moeder; want dit laat die kinders dink dat hul beter is as ander mense se kinders: wat sleg is, word nog slegter; en wat goed is, steur hul nie grootliks aan hulle moeder se lawwe praatjies nie. Dan, so ’n trek in die moeder maak dat ander mense maar baie min van haar kinders dink—die jongkêrels kry teësin in die dogters, en die meisies gee nie om vir sulke danige blinkgemaakte jongkêrels nie. So het haar kinders been-oud geword voor hulle getrou het.

Maar die jongste dogter was darem regte mooi; sy was ’n terggees van die bestes en baie deur die windmaak van die moeder bederwe. Maar tog met dit al was die jongmense gek na haar; hulle het baie by haar kom kuier as die moeder opsy was.[102]

Maar kom die ou moeder in die geselskap, dan is dit maar weer só: sy sit haar dogter tot vervelens toe met woorde te verkoop en sê dat die man wat dié dogter vat, moet kan mooi sing.

Kriekie kom sing, Sonbesie kom sing, Uil kom sing, Wolf en Jakkals kom sing; maar die dogter, tot groot ontsteltenis van die moeder, bars uit van lag en spot die singers lekker in hulle gesigte uit. Dit maak die moeder teen die dogter isegrimmig, en die singers stap boos weg. Hul vat op die daad hul karos en verlaat die geselskap.

Toe die dogter en die moeder weer alleen was, begin die moeder by haar dogter te pamperlang en vra die dogter wat nou eintlik haar sin vir iemand is.

Die dogter begin toe eers hierdie kant toe te praat, en toe weer daardie kant toe te praat; en sy raak so deurmekaar dat sy somar alkant-toe praat. Toe was die moeder nog net so met haar dogter opgeskeep en was niks wyser geword nie.

Eendag was daar weer ’n geselskap, en die moeder en dogter was ook daar. Weer begin die moeder oor haar dogter uit te wy en sê dat die een wat die mooiste kan dans, dié kan die dogter kry.

Meteens begin Padda te dans, toe Springbok, toe Hasie, toe Slang, toe Patrys, toe Skilpad; maar weer, tot steurnis van die moeder, sit die dogter die hele klomp dansers in hulle gesigte uit te lag. Die moeder voel toe vererg, en die dansers nie minder beledig nie. In ’n ommesientjie sit die moeder met haar dogter weer alleen; algar het karos gevat en weggestap.[103]

Daar was toe geen ander plan vir moeder en dogter nie, as ook maar karosse te pak en na hulle huis toe te stap. Op pad vra die moeder andermaal wat die sin van die dogter is.

Sy praat toe weer hierdie kant toe, toe daardie kant toe, en somar daarop alkant-toe, en was so deurmekaar as ’n vlieg in ’n spinnerak.

Op ’n sekere dag sit die moeder en haar dogter weer in ’n ander geselskap. Andermaal begin die moeder die fluitjie van prys vir haar dogter te blaas en sê dat die een wat die netste met ’n pyl kan skiet, die dogter kan kry.

Toe vat Heuningby sy boog en pylkoker, en hy begin daar rond te skiet; Muskiet begin te skiet; Muggie begin te skiet; Blindevlieg begin te skiet; ook Vlooi begin te skiet. Toe saai die geselskap uitmekaar—moeder en dogter inkluis—, en karosse bly in die slag.

Op pad huis-toe sê die dogter: „A, nee, ma, jy moet eers dink voor jy praat! Kyk hoe toe is ons oë nou geswel!”

Die moeder voel toe dat sy haar saak nie goed oordink het nie; so begin sy somar te sê: „Kom, vertel my nou regtig wat jou sin is!”

Soos gewoonlik praat die dogter weer hierdie kant toe, daarop daardie kant toe en toe somar alkant-toe, dat sy andermaal nes ’n vlieg in heuning vassit. En die moeder bly toe nog net so dom.

By ’n ander geleentheid bevind hul vir hulle weer in ’n groot geselskap, en die moeder haar mond borrel weer oor van lof van haar dogter; en sy sê dat die een wat die mooiste karos het, dié kan haar dogter kry.[104]

Toe tree Mot te voorskyn met sy karos; Muis kom met syne; Akkedis met syne; Suikervoëltjie met syne; Kwagga met syne; Muishond met syne; en Perdeby met syne. En hulle maak hul karosse oop en toe om te wys hoe mooi dit is—net Perdeby nie.

Die dogter het hierdie slag haar moeder plegtig belowe om nie haar lagbui te hervat nie en om haar stemmig te gedra. Haar keuse val toe op die mooi glinsterende blou karos van Perdeby, en sy neem hom; en hulle twee gaan saam na die kleihuis van Perdeby, met die baie kamers.

Maar Perdeby vang net ruspers, wurms en spinnekoppe en bring dié na sy huis toe en vul die kamers daarmee. Sy vrou objekteer en sê aan hom dat sy nie gewoon is om sulke gogga-goed te eet nie; hy moet vir haar wild gaan skiet. En hulle twee stap saam veld-toe.

Sy sien ’n haas lê en slaap, en sy roep hom en sê: „Kom hier, my man, en skiet hierdie hasie vir my.”

Hy neem ’n pyl uit sy koker en sit dit op die boog en vra: „Waar is die haas?”

Waarop sy antwoord: „Hierso, onder hierdie bossie!” Hy bekruip toe die haas; maar sy sê: „Gooi tog af jou karos!” Hy maak so. Toe sien sy die danige dun lyfie van Perdeby, haar man, en sy skater uit van lag oor daardie danige dun lyf en roep uit: „O so, nou verstaan ek waarom jy nooit jou karos wil afgehaal het nie! Ga, ga, ga! Kyk daardie verspotte dun lyfie!”

Perdeby word toe so boos—want hy kan gou kwaad word—dat hy sy vrou op die plek met ’n pyl doodskiet.

En dis nou die betaling wat die moeder met al die pronkery met haar dogter gekry het.[107]

[Inhoud]

No. 39.

Moeder Leeu en die Kinders.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is slegs ’n blote vertelling waarin die verbeelding vrye teuels gegee word.

Daar was ’n vader Leeu en ’n moeder Leeu. Van hulle jong dae af het hul vir hulle ’n mooi jagveld uitgekies. Op ’n oop vlakte, digteby ’n kolk water en ’n ent van ’n kliprant af, het hul onder ’n klompie bome en tussen rotse ’n huis uitgekies. Onder die bome was ook ’n kol kort bosse, wat in die daaglikse spreektaal kreupelhout of ondergroei genoem word. Dus, ’n baie mooi wegkruipplek, van waar hul oor die vlakte kan sien. Daar was ook genoeg wild vir hulle, daarom was hul so tevrede daar en het daar hulle hele lewe gewoon.

Hulle het altyd twee of drie kinders tegelyk. Die kinders bly dan by hulle ouers en gaan saam met hulle ouers jag om te leer hoe om self te jag. As daar weer twee of drie boeties en sussies gebore word, dan gee hulle pad en vat dan hulle eie koers om vir hulself ’n huishouding te begin.

Vader Leeu en sy vrou, moeder Leeu, word ná verloop van jare oud; hulle tande word sleg, want met die [108]stukkend-byt van harde bene moet die beste tande met verloop van jare en met naderende ouderdom ingee. Toe kan die twee oues nie meer so goed jag nie; en terwyl hulle nie meer jong kinders het nie en die ander reeds op hulle eie boer, so het hul dit nie meer so volop gekry nie. Hulle moes toe maar diere vang wat nie so vinnig hardloop nie; so ook het hul begin onder die Boesmans te vang—vernaamlik onder die ou meide wat veld-toe gaan om veldkos te soek.

Hiervoor kry hul op ’n sekere tyd ’n mooi kans. Want groot buie reënt het daar geval, en baie wild kom die streek binne om op die groen veld en golwende gras te wei. Baie Boesmans volg die wild, en hulle gaan onder die klipkranse van daardie rantjie, wat naby is, woon. Die ou meide en kinders kom by die kolk, naby die leeus hulle huis, water skep; dan neem die leeus hulle kans waar om die ou meide dood te byt en die kinders lewendig te vang en na hulle huis, onder die klompie bome by die groot rotse, te bring, om daar te woon en speel.

Die leeus hulle huis was so veilig en gevaarlik dat die jagters dit nie gewaag het om die leeus daar oordags te gaan aanval nie; terwyl in die nag, as die leeus op hulle stukke is, het die Boesmans glad nie daar naby gekom nie. Maar hulle sê die leeus is te gevaarlik so naby die waters, en ’n plan moet gemaak word om hulle uit te roei of te verjaag.

Hulle maak ’n ou pop van velle en stop dit met gras op, sodat dit baie na ’n regte Boesman op ’n afstand lyk. Aan die nek maak hul ’n lang riem vas, en twee jagters [109]neem die pop mee. Hulle stap na die kolk water toe en klim daar in ’n boom. Die pop bly onder die boom; maar hulle trek gedurig aan die riem, sodat dit lyk of die pop ronddans en lewendig is. Dit is ’n ou plan wat Boesmans maak om leeus na ’n boom te lok om hul dan daar dood te skiet.

Vader Leeu dink toe dat die pop ’n ou meid is wat nie in die boom kan klim nie; daarom staan sy onder die boom rond te dans. Hy maak hom gereed en gaan die pop bekruip. Toe hy die pop onder die boom bevlie, maak die twee jagters bo in die boom ’n geraas. Vader Leeu kyk met oop bek op; en dit was net wat die twee jagters wou gehad het: dadelik skiet hul gifpyle in die oop bek van vader Leeu; en ná enige oomblikke was vader Leeu ’n lyk, om nooit weer ou meide en kinders te vang nie. Dog hulle bly van Leeu se huis weg.

Moeder Leeu het die moord op haar ou man al die tyd staan aanskou; so was dit ’n waarskuwing vir haar om nie meer ou meide en kinders te gaan vang nie. Sy moet dus ’n ander plan maak. Sy wapen toe die Boesman-kinders wat by haar woon, met knopkieries; sy gaan self in die nag met hulle jag. Sy vang wild en hou die prooi vas, en dan kom die kinders en slaan met hulle knopkieries die ding dood wat gevang is. So het hul op ’n ander manier al die tyd volop kos gehad. Sy wou die kinders nie na die kolk toe stuur om water te haal nie; want dan mag dit gebeur dat hulle eie ouers vir hulle daar sien, en kan vir hulle daar kom haal en na hulle huise toe neem.[110]

By moeder Leeu haar huis het ’n groot en kragtige donkergroen boom gegroei, wat sulke lekker vrugte gedra het. Die kinders was baie gek na daardie vrugte. Sodra hul daarvan geëet het, dan vergeet hul alles wat tevore gebeur het. So het hul glad vergeet dat hul Boesmans vir ouers het. Hulle verkeer toe maar onder die vaste verbeelding dat moeder Leeu hulle regte moeder is en dat dit hulle plig is om vir haar te sorg. Ewe tevrede speel hul onder daardie klompie bome en gaan nooit daaronder oordags uit nie. Maar snags is hulle Kaatjie van die baan: dan baljaar hul rond of is doodstil as hulle op die jagtog uit is.

Later word moeder Leeu sieklik en kry ’n slegte bors, dan moet die kinders haar bors kom vrywe—en dit het hul met die grootste bereidwilligheid gedoen. Van toe af het hul baiemaal self alleen gaan jag en was nog altyd in staat om ’n stukkie kos vir sieklike moeder Leeu huis-toe te bring, waaroor sy altyd baie dankbaar is; en om haar dankbaarheid te betoon, lek sy die hande en voete van die kinders as hul op haar lê en met haar ore of stert speel.

Hulle was, in kort, ’n gelukkige gesin daar onder die bome.

Maar op ’n goeie dag hoor een van die dapperste Boesmans kinders onder die bome by moeder Leeu haar huis speel en lag. Hy sê toe by homself: „As die leeus daardie kinders nie vang en doodbyt nie, dan sal hul dit aan my ook nie doen nie.”[111]

Hy stap daarheen en kry die vrolike kinders daar net alleen, want moeder Leeu het net na die kolk toe gestap om in ’n hartbeespens water te gaan haal.

Die dapper Boesman praat met die kinders, en dadelik bemerk hy dat hul niks meer van hulle ouers af weet nie; dog hy ken nog al die kinders en weet wie hulle ouers is. Hy het „houtjies” in sy knapsakkie gehad—„houtjies” wat sy toordokter vir hom gegee het; en hy laat al die kinders daaraan kou, en toe kom hulle vorige verstand weer terug. Hulle kry toe dadelik ’n begrip dat hul kinders van Boesmans is, en nie van leeus nie.

Toe sê hy: „Julle twee wat daar so sit, julle ouers se vuurtjie brand onder daardie krans. Sien jul die rokie daar uitslaan?” En die twee kinders spring op en hol na hulle ouers se huis toe.

Daarop sê hy weer: „Julle drie wat daar so sit, julle ouers se vuurtjie brand onder daardie krans waar die groot boom staan. Sien jul die rokie daar uitslaan?” Die twee kinders spring op en hol reguit na hulle ouers se huis toe.

Daarop sê hy weer: „Julle drie wat daar so sit, julle ouers se vuurtjie brand hoog bo in daardie diep kloof. Sien julle die rokie daar uitslaan?” Die drie kinders staan op en hol reguit na hulle ouers se huis toe.

Toe bly daar nog net een kind sit, en die Boesman sê: „Jou ouers se vuurtjie brand daar in die ander diep kloof. Sien jy die rokie daar uitslaan?” En die kind hol ook na sy ouers se huis toe.[112]

’n Ruk daarna kom moeder Leeu met die water aangestap. Deur haar bors swak was, was sy uitasem. Sy hoor of sien die kinders nie, maar sien ’n volwasse Boesman daar sit, en sy vra: „Waar is die kinders?”

Hy antwoord: „Die kinders is nie meer hier nie.”

Sy kry trane in die oë en roep uit: „Waar, waar is die kinders? Wat gaan ek doen sonder die kinders? Waar, waar is die gehoorsame kinders?” En sy huil bitterlik kwyl en trane.

Daarop sê sy huilend aan die Boesman: „Jy het die kinders hier kom wegvat. Hulle was so tevrede hier en het altyd so soet gespeel; waarom doen jy dit? Kan jy nie sien ek word al grys en oud nie? Nee, ek is al oud; ek is al grys.” En sy huil hardop.

Al wat die Boesman antwoord, is: „Die kinders is nie meer hier nie.” Hierop vat hy sy goed en stap ook na sy huis toe.

Moeder Leeu het daarop toe sieker en sieker geword; en toe sy haar kop neerlê, was daar nie kinders om haar benoude bors te vrywe nie. En sy het hul ook nie meer by haar om hulle hande en voete te lek nie.

Maar die ouers van die kinders wou uit hulle velle spring van blydskap toe hul hulle kinders weer by en rondom hul sien speel en lag; want dit was hulle kinders, en nie dié van moeder Leeu nie.[115]

[Inhoud]

No. 40.

Boesman-gedigte.

OPMERKINGS:—Om die Boesman reg te laat wedervaar, neem ons ’n paar van sy gedigte op. Daar is baie daarvan; dog as ons ’n vertaling daarvan moet lewer, dan word dié bepaald waardeloos, omdat die gedigte meestal nabootsings in sy eie taal van natuurklanke is. So boots b.v. ons blank kinders die tortelduif se sang na as: „Werk stadig! Werk stadig!” Of dié van die lemoenduifie as: „Ek gaan na Woester toe! Ek gaan na Woester toe!” Vertaal dit in ’n ander taal en kyk dan watter gebrou dit afgee. Maar ons het darem ’n paar gedigte deur ’n mak Boesman gemaak, opgevang. En dié kan ons met ’n sekere mate van vrymoedigheid aanbied. Let op, die rymmaat is in ooreenstemming met hulle dansmusiek, of riele, gebring. Baie reëls en parte van die gedigte word oor en oor herhaal.

[Inhoud]

DIE DIERE GAAN WATER DRINK.

Die diere die kom,

Die diere die kom,

Die diere die brom—

Hul draf na die water toe.

Met kop na die grond,

Hul sterte swaai rond—

Hul draf na die water toe.

[116]

Namakwa-patrys,

Wat water kan wys—

Hy vlie na die water toe.

Die kwagga loop voor,

Die leeu vat spoor—

Hul draf na die water toe.

Die Boesman wag daar,

Met boog en sy snaar—

Hy kruip by die water weg.

Die diere kom drie,

Die pyle die vlie

En skiet by die water dood.

Die Boesman kry kos

En spring uit die bos—

Hy hol na die water toe.

Die wild lê rond skop,

Hy moker die kop

Van wild wat by water vrek.

[Inhoud]

’N RIEL.

Mans:

Kwagga, kwagga met sy bont poot saam.

Kwagga, kwagga met sy rond poot saam.

Kwagga met sy knoppoot saam.

Kwagga met sy kloppoot saam.

Meide:

Ei! Hy blaas as hy draf.

Ei! Hy snork as hy draf.

Ei! Hy trippel met sy voorlyf weg!

[117]

Mans

(met hande in die sy):—

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Meide:

O, dis sy wegdraf dié!

O, dis sy pronkslag dié!

Mans:

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hoeit! (en handegeklap.)

Mans:

Korhaan, korhaan met sy speekbeen saam.

Korhaan, korhaan met sy blink skeen saam.

Korhaan, korhaan met sy lang nek saam.

Korhaan, korhaan met sy plat bek saam.

Meide:

Ei! Hy koes as hy draf.

Ei! Hy buk as hy draf.

Ei! Hy trippel met sy voorlyf weg!

Mans

(met hande in die sy):—

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Meide:

O, dis sy wegdraf dié!

O, dis sy koesslag dié!

Mans:

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hoeit! (en handegeklap.)

Mans:

Hiekie, kriekie met sy groot toon saam.

Hiekie, kriekie met sy swart boon saam.

Hiekie, kriekie met sy strykstok saam.

Hiekie, kriekie met twee-lok saam.

[118]

Meide:

Ei! Hy wip as hy spring!

Ei! Hy glip as hy spring!

Ei! Hy trippel met sy groot toon weg!

Mans

(met hande in die sy):—

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Meide:

O, dis sy wegloop dié!

O, dis sy wegspring dié!

Mans:

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hòggô! Hòggô, hòggô, hòggô!

Hoeit! (handegeklap en gelag.)

(Dan volg een herhaling van hierdie riel ná die ander, tot hul weer ’n ander een opvat.)[121]

[Inhoud]

No. 41.

Leeu binne die Hut by die Kind.

OPMERKINGS:—Dit is die enigste storie wat onder ons aandag gekom het waar Boesmans en Hottentots dieselfde verhaal op hulle eie manier vertel.

’nBoesman en sy vrou het net een meisiekind gehad, wat net begin te praat. Hulle twee stap veld-toe en neem die kind mee. Die vader help vir die moeder om boesmanrys uit te grawe, en onderwyl sit die kind te speel of loop naby hulle rond. Die meisiekind kon sulke snaakse dingetjies sê, waaroor die ouers staan en lag, want sy praat nog krom.

Ná die twee oues genoeg boesmanrys uitgegrawe het, en ná hul die kluite daartussen uitgesoek het, stap hul water-toe om die sand tussen die rys uit te was. Die vader dra die knapsak met rys, en die moeder dra die kind op haar rug. Onderwyl lag hul nog altyd oor die snaaksheid van die kind. Daar spring toe ’n vlakbokkie uit. Die vader, wat al die tyd met pyl en boog in sy hande gereed gestap het, skiet die vlakbokkie, en die diertjie val ná ’n entjie te gehol het, dood. Nou het hul meer kos as wat die gesin in een nag kan opeet.

Toe hul by hulle hut kom, gaan die son onder. Solank die vader slag, begin die moeder al aan die binnegoed te [122]braai. Dit sou vir twee witmense en ’n klein kind oorgenoeg kos gewees het; maar vir Boesmans is dit maar net peuselkossies. Hulle begin ook van die vleis te kook en braai en eet een streep deur. In dieselfde tyd maak die moeder ook die boesmanrys gaar en bêre dit in leë volstruiseierdoppe, want hulle het dié aand net ’n groot vleishonger gehad; daarom word die vleis net hard aangespreek. En toe hul laat in die nag gaan slaap, was daar nog maar min van daardie vlakbokkie oor. Die ouers gaan onder hulle velle slaap, maar die kind nie.

Dog soos ’n kind is, sit die klein meidjie aaneen te kerm oor boesmanrys. Die ouers sê dat sy oorgenoeg gehad het en nou maar moet kom slaap. Maar nee—die klein kind bly by die vuur sit en dwing net oor rys, en sy begin toe hard te huil.

Leeu hoor die kind en kom kruip-kruip aan. Hy sien toe die kind alleen langs die vuur sit, terwyl die ouers onder hulle velle lê. Hulle het nog nie geslaap nie, want die kind raas en huil te baie. Slaan help ook nie.

Leeu kom in die deur van die groot hut sit. Nou kan niemand uitvlug nie. Toe die ouers dit gewaar, ruk hul hulle koppe onder die karos en lê doodstil.

Leeu het sy planne klaar: hy wil die ouers opvreet, en nie die kind nie. So begin hy tydsaam met die kind te speel. Hy steek sy poot uit, vat aan die kind en speel nes ’n kat met haar.

Die ouers wou sterwe van angs, dog haal nouliks asem.

Maar die kind vind hierdie spelery van Leeu erg prettig; sy lag daaroor en sê ieder maal: „Ek ’tieke jou! [123]Ek ’tieke jou!” terwyl sy vir Leeu met ’n stokkie kielie en steek.

Leeu vind hierdie soort speletjies net so prettig as die kind en word ewe vrolik; en dit loop op ’n soort baljaardery uit, sodat Leeu soms op die twee ouers onder die karos trap, maar hy laat nie merk dat hy weet dat hulle daar lê nie; dan wil die vader en moeder onder die karos van angs sterwe.

Leeu slaan aljimmers die stokkie uit die hand van die kind en paai haar dan met sy poot. Eindelik gryp die kind ’n stompie vuur met ’n vlammetjie aan onder die pot uit en sê weer: „Ek ’tieke jou! Ek ’tieke jou!” en sy prop die vlam in die lang maanhare van Leeu; die hare raak aan brand; en hoe meer Leeu sy kop skud, hoe meer die vlamme ruis. Hy neem die vlug; en so ver as hy hol, steek hy die veld aan brand.

Toe vir die eerste maal loer die ouers onder die karos uit of Leeu wel weg is en of dit wel waar is wat die kind uitroep: „Kyk hoe b’and hy! Kyk hoe b’and hy!”—natuurlik in die Boesman-taal.

Daarop kruip hul onder die velle uit. Hulle sien hoe die veld brand, hoe Leeu in volle vlam rondhol, en hoe hy eindelik dood teen die grond neerslaan. Toe weet hul om aan die kind ’n volstruiseierdop vol boesmanrys te gee; want sy het hul van die dood verlos. Toe kan hul haar nie genoeg dank en prys nie.

(Die laaste part van hierdie storie moet ons welvoeglikheidshalwe onderdruk.)[127]

[Inhoud]

No. 42.

Wolf en sy twee Vroue.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is slegs ’n karakterskets om die domastrantheid en vraatsug van Wolf af te teken.

In die dae wat lankal verby is, het daar baie bossiehuise van die ou geslag rond, en nie ver van mekaar nie, gestaan. Boesmans het daar gewoon; leeus het daar gewoon; Wolf en Jakkals het daar gewoon—algar in bossiehuise. En daar was ’n oor-en-weer-lopery van die een plek na die ander. Hulle het baie saam gejag, baie saam geëet en baie saam gedans en feesgevier. Toe was daar baie plesier; maar ook twis en rusie om aldag se eentonigheid aan stukke te kap.

Wolf was, en is tot vandag toe nog, ’n flukse jagter. Maar hy ook het geweet dat aldag jagdag is, maar nie aldag doodmaakdag nie. Die ou kan mos baie eet; dit vat ’n groot knapsak vol vleis om met sy honger mooi te praat en om dit stil te kry. Oor hierdie manier het Wolf se ander bure nie van hom te veel te eet gekry nie. Dit is maar ’n gelukslag dat Wolf vir hulle kon trakteer.

Maar as Wolf die dag of nag niks te vang gekry het nie, dan stap hy eenvoudig na sy bure se plekke toe, loop die een plek na die ander af; en sonder genooi te wees gaan hy aansit en eet ewe gulsig met hulle mee.[128]

Die bure vind toe gou Wolf se laai uit; as hul hom hoor aankom, dan raap hul die kos weg en bêre dit op so ’n plek waar hy dit nie kan sien nie. Maar sy ruik is goed. Hy dwing en hou aan op so ’n onbeskaamde wyse dat hul hom eindelik iets te ete gee. En dan is hy nog nie tevrede nie.

Hiervan het die bure ook later moeg geword, toe weier hul beslis om selfs vir hom ’n murgbeen te gee. Wolf het hom nie laat vermaak nie; hy gryp die kos voor hulle weg, of maak die potte oop en haal die vleis daaruit, of hy trek die spitte met karmenaadjies by die vuur uit, of vat hulle karosse en stap daarmee weg en gaan alles gulsig opeet.

Hy het sy vrou geleer om haar eie pad te gaan en die einste ding te doen. En sy kon dit amper beter as haar man regkry.

Dit het dan ook nie lank geduur nie, of algar was vir Wolf en sy vrou buikvol. Hulle stap toe na Wolf se huis toe, toe hy en sy vrou nie daar is nie, en steek dit aan brand. Wolf bou weer ’n ander bossiehuis, en weer gaan die vuur daarin. Dit ontmoedig hom nog nie; hy bou weer, en andermaal gaan die vlam daarin, want die bure wil Wolf en sy vrou uit hulle geweste verdryf. Met aanhou het hul oorwen.

Wolf en sy vrou trek toe glad ’n ander oord in. Die eerste waartoe hulle besluit, is om nie meer bossiehuise te maak nie, maar om in gate te gaan woon; want grond- en kliphuise kan nie aan brand gesteek word nie.

Wolf en sy vrou begin eers fatsoenlik te kuier; maar nog al die tyd vat ieder sy eie koers, sodat hul nooit saam [131]op een plek aankom nie. Hulle het nie eens geweet dat Wolf ’n vrou het nie.

„.… Hy loer in die skeur; en, ja waarlik, daar sit die snoer.…”

 

Een aand gaan Wolf op ’n plek kuier, en daar sien hy ’n jong meid, so reg na sy sin; en hy begin somar daar sy lyf vryer-Hottentot te hou, want hy is nou vasberade om twee vroue te neem. Hy gedra hom baie ordentlik; hy begin oor sy jagtery te spog, hoe sterk hy is, hoe hy alles kan uitvind; en wat uithalerheid betref, loop sy kersvashouers glad nie rond nie. Hulle glo vir Wolf en nooi hom om baie oor te om. Hy was ook nie links nie en laat sy stof net baie daar rondwaai. Baie aande bring hy ’n agterkwart of ’n voorkwart van wild wat hy gevang het. Dit alles net om ’n twede vrou te kry.

Een aand vra hy die jong meid of sy maar sy vrou wil wees. Sy het Wolf altyd onderdeur geloer en beskou; sy gee geen antwoord nie, maar werk aan ’n neksnoer sonder om op te kyk. Sy maak of sy nie gehoor het nie, maar sy dink ver.

Wolf praat weer. Sy gee toe antwoord en sê dat Wolf oor drie aande weer moet kom. Oor ’n rukkie stap hy weg.

Die derde aand is hy daar. Sy sê toe: „Jy praat en spog so danig oor jou krag en dat jy alles kan uitvind. Die neksnoer het ek êrens weggesteek; loop soek dit en bring dit hier, dan sal ek jou neem en met jou saam na jou huis toe gaan.”

Wolf vat aan sy ken, en sy gedagtes dwaal ver buitekant sy hart; en hy begin toe somar te praat van die groot present—die stuk vleis wat hy met hom meegebring het. [132]Hy het gou geëet en weggestap—hy gee voor hy gaan nou die neksnoer haal.

Maar Wolf is ’n ou onderkruiper: hy gaan daar naby onderkant die wind lê, van waar hy alles kan hoor wat hul in hulle hut praat. Hy het nie te lank geluister nie, of die vader van die jong meid vra: „Waar het jy die neksnoer weggesteek?”

Sy antwoord: „Pa, in die klipskeur by die ’norra-kareeboom.”

Wolf het nie juis geweet waar die ’norra-kareeboom is nie; dog uitvra-uitvra het hom gou die pad daarnatoe beduie. Hy kry die regte plek; hy loer in die skeur; en, ja waarlik, daar sit die snoer in ’n oor van ’n koedoe weggesteek.

Wolf neem ’n haakstok om die koedoe se oor nader te trek; dog die muise het die onderpunt van die oor weggevreet; en toe Wolf daaraan roer, glip die snoer daaruit en val dieper in die skeur, waar Wolf dit met geen moontlikheid kan bykom nie. Toe sit die ou, na baie te gesukkel het, hand in die hare.

Meteens kom Miskruier met ’n bol klei daar verby. Wolf bekyk hom en sê: „Ou vriend, hoor jy is dom om die bol klei agterstevoor te rol. Staan reg en doen jou werk soos dit moet wees.”

„Og!” roep Miskruier uit, „ek is nie so dom en sleg as jy my voor verslyt nie. Sien jy nie hierdie bol klei is groot nie? As ek dit met my kop na vore aanstoot, dan kan ek mos niks sien nie; stoot ek dit agterstevoor, dan kan ek die hele wêreld rondom my sien. Jy moet weet, ek is sterk en [133]kan baie groter stukke klei as hierdie stoot—dis meer as jy kan doen!”

„Wat!” werp Wolf teë, „ek rus net uit om hierdie groot rotse weg te rol. Ek wed jou jy kan nie daardie neksnoer in hierdie klipskeur tussen die rotse verroer nie. Loop haal dit uit en bring dit hier, dan sal ek jou wys hoe maklik ek weer aan my kant hierdie tamaai groot rotse rondrol.”

„Nou toe, laat ek sien,” sê Miskruier toe hy die skeur instap om die neksnoer daaruit te sleep. Hy steek sy horing teen die snoer, kom daarmee aangestap en smyt dit voor Wolf neer. Daar gryp Wolf dit en hol daarmee na die jong meid toe. Voor hulle in die hut geslaap het, en terwyl hulle nog aan Wolf se presentvleis sit en braai, is Wolf daar en oorhandig die neksnoer.

A nee, nou moet die jong meid glo dat Wolf alles weet en alles kan uitvind. Sy maak haar klaar en stap met Wolf mee na sy huis. En net kom Wolf se eerste vrou daar, en dit was ’n getwis uit die staanspoor. Nooit het daar weer rus in daardie huis gekom nie. Wolf wou naderhand gek word.

Toe sê die bure wat dit gehoor het, dat dit die beste straf is wat hul Wolf kan gegee het. En dit het ’n spreekwoord onder die Boesmans geword as iemand straf verdien: „Gee hom twee vroue;” want die jong vrou trek sy grys hare uit om hom jonk te maak, en die ou vrou sy swart hare om hom oud te laat lyk.[137]

[Inhoud]

No. 43.

Tier is ontevrede met die Son.

OPMERKINGS:—In hierdie storie het ons ’n karakter-tekening van Tier, en daar word vertel wat hom deur sy roekeloosheid oorgekom het.

Tier bou sy huis daar op die vlakte tussen hoë gras en bossies. Hy is ook een van die ou geslag, wat rondgeloop het toe daar nog geen Son was nie. Daarom is hy Tier. Hy was net boos op die kinders wat Son se kop in die lug gegooi het om dit oordags so baie lig te laat maak en wat sulke ondraaglike hitte veroorsaak. Daarom het hy nooit ’n goeie woord vir Son gehad nie, maar skel Son die heel dag uit.

Eendag was dit baie warm, en na ou gewoonte jag hy net in die nag of as dit onweer is, en hy lê oordags te slaap. Tier het onder hierdie boom, dan weer onder daardie boom gaan koelte soek; maar dit is en dit bly maar warm. Toe begin hy weer vreeslik op Son te skel en swets. Hy kruip daarop in sy pondok om te kyk of dit daar nie koeler sal wees nie. Son steek toe die veld met sy groot hitte aan brand.

Toe Tier die vuur ruik en hoor kraak, spring hy uit. Hy was aan al kante deur vlamme omring, want die hoë gras en bossies om sy hut was vol in die vlam. Daar was [138]geen ander raad vir hom nie as net om oë toe te maak en dwarsdeur die ruisende vlamme te spring.

Dit het die hare van sy bont karos lelik geskroei en gebrand, sodat dit nog bonter geword het. Hy is ’n man wat nie so goed oordags as snags kan sien nie, so staan hy lank rond te kyk watter koers hy sal vat om vir hom ’n ander woonplek te gaan soek.

Daar naby is ’n koppie, maar daar woon Boesmans in; dog hy gaan kyk, want dis die beste om te sien of hul nog daar is. Hy stap soontoe en gewaar daar niemand nie. Daar is ’n mooi koppie met ’n soort spelonk, wat rondom met groot en digte bome begroei is—so net na sy sin!

Hy roep by homself uit: „A, hier sal Son my nie kan brand nie; want die bome is dig en groen, en die klipgrot is lekker koel, aangesien Son nie deur die dik rotse wat bo-oor die grot lê, kan skyn nie,” of soos hy dit uitdruk: „Son kan nie met sy warm pyle deur die groot rotse skiet nie.” Hy neem toe daar sy intrek en maak van toe af nie meer vir hom bossiehuise of pondokke nie.

Saans as Son haas ondergaan, of as die wolke dik toetrek en Son belet om te skyn, dan gaan hy op een van die oop rotse lê en beskou dan die wêreld van gaatjie tot hoekie na alle kante toe of hy nie wild sien rondwei nie.

Eendag, toe dit so stadigaan motreën, sien hy ’n hartbees wei nie veraf nie. Hy loop met ’n ompad tot hy onderkant die wind kom. Saggies-saggies seil hy voorwaarts. Voetjie-vir-voetjie kruip hy nader en nader, tot hy gereed is vir die spring. Toe trek hy hom inmekaar, raap hom op, en bo-op die hartbees sit hy! ’n Worsteling vir enige [139]oomblikke vind plaas—Tier pak sy prooi onder die keel, verwurg hom; en daarop byt hy ’n wond onder die keel, waaruit hy die bloed suig. Hieraan het hy reeds ’n goeie maal. Die hartbees self sleep hy onder ’n bos, en hy gaan daarop op ’n dik oorhangtak van ’n nabystaande boom lê om sy kos verder op te pas.

Nie te lank nie, of hier kom Jakkals aangedraf. Hy snuif hierdie kant toe, dan weer daardie kant toe en draf ’n entjie in die rondte—altyd met die neus teen die wind in die lug.

Ai, hy ruik vir Tier in die boom. Dadelik begin hy te tjank met uitgesteekte tong en kop in die lug. Ja, en hy smeek net jammerlik tog net maar om ’n klein stukkie vleis.

Tier word vererg, want hy wil nie laat weet dat daar kos is nie; so roep hy gebiedend uit: „Sal jy jou snater hou!”

Jakkals skrik en spring ’n entjie terug, maar begin nog treuriger te tjank.

Tier erg hom tot in sy hart aan Jakkals, en hy spring af. Jakkals swenk om die bos, vat ’n sykoers; Tier hol reguit, en so verloor hy vir Jakkals glad, en hy kom oor ’n ruk weer na sy boom terug.

Hy gaan snuffel-snuffel op die einste tak lê; maar wat bemerk hy tot sy teleurstelling: drie Boesmans en ’n paar meide het gekom solank hy spoorgesny het en na Jakkals gesoek het; die Boesmans het om die hartbees ’n doring-kraaltjie gepak; want die hartbees het in ’n opening tussen doringbosse gelê, sodat dit gou geskied het. Die Boesmans het dadelik bemerk dat dit Tier is wat die hartbees doodgebyt [140]het, en hul verwag hom iedere oomblik; daarom was hul so gou.

Die reën het lankal opgehou, en dit word net sterk donker. Tier maak toe ’n ander plan as om drie gewapende mans met hulle vroue aan te val. Hy draai hom dig toe in sy karos, hy stap na die Boesmans toe en sê dat hy ’n reisiger is en vra of hy maar kan inkom om daar binne te slaap. Hy vertel daarby dat hy nie honger het nie, maar net slaapplek kom soek. Sy berekening is om die Boesmans in hulle slaap aan te val en op te eet; want dan kan hul nie so gou hulle pyle en boë in hande kry nie.

Die Boesmans ken hom nie en maak die nou poortjie van die doringskerm oop en laat Tier ewe gerus binne. Tier gaan in ’n donker hoekie sit en vra hul om hulle nie aan hom te steur nie; want hy kom van ver, hy is moeg en het ’n swaar hoofpyn. Dit sê hy om in die donker te kan sit; want lig en vuur is mos nie sy maters nie. Maar bowenal is sy grootste doel dat hul hom nie moet ken nie; daarom is hy dig in sy karos toegedraai, sodat net die puntjie van sy neus lug deur ’n skeurtjie van die karos kan kry.

Hulle begin te slag en gesels, maar Tier sit doodstil in die donker hoekie.

Met die slagtery en gewoel glip die klipmes van een van die meide uit haar hand en val naby Tier se voete. Met die soek na die mes sien sy Tier se twee voete onder die karos uitsteek. Sy skrik sonder om ’n geluid te maak; want nou is hul binne-in die skerm met Tier ingesluit, waar hy hul maklik kan doodmaak.[141]

Ewe teenwoordig van gees sê sy: „Ons braai hier vleis en vergeet die nes vol volstruiseiers! Kom saam, want dis donker; laat ons algar gaan om die eiers te gaan haal.”

„Watter volstruiseiers praat jy van? Hoekom weet ons daar dan niks van nie?” merk haar man ewe onskuldig op.

„Hoe kan julle dan daarvan weet as ek jul nou eers daarvan vertel,” werp sy teë.

„Hoe ver is dit hiervandaan?” vra ’n ander.

„Hier naby—net hier digteby,” was haar antwoord.

Hulle was meer met die hartbeesvleis as met volstruiseiers tevrede en was ook bang om in die donker uit te gaan, want hulle verwag mos vir Tier iedere oomblik van buite af. Dog die meid knip oë vir haar man, en hulle verstaan dadelik wat sy meen. Maar die ander meid vang nie wat gaande is nie, so hou sy by haar man aan om maar te bly; dog hy lei haar saam met hulle uit; en toe hul ’n entjie opsy staan, sê die meid: „Ons verwag vir Tier van buite af, en al die tyd sit hy by en tussen ons.”

Die drie mans span hulle boë en skiet op Tier tussen die takke deur; hy kon nie uitvlug nie, want die poortjie was met die uitstap toegetrek. So het Tier binne-in die skerm aan sy einde gekom.[145]

[Inhoud]

No. 44.

Ystervark en Vlermuis.

OPMERKINGS:—Hierdie storie vertel ons iets oor die gewoontes en geaardheid van Ystervark en Vlermuis. Ook word iets omtrent Uil vermeld.

Daar was in die ou dae ’n ou Boesman en sy ou vrou wat aan die ou geslag behoor het, en hulle het ’n kleinjong en ’n kleinmeidjie as enigste kinders gehad. Toe die moeder sterf, was die kleinmeidjie nog baie jonk en begin net rond te loop; maar die kleinjong was al so groot dat hy goed kan rondhardloop en sy ouers met klein handreikinkies kan help. Maar nou is hulle wesies.

Ná ’n ruk neem die Boesman vir hom ’n ander vrou. Sy was ’n jong meid en het nie baie van ander mense se kinders gehou nie; so het haar twee stiefkinders dit maar nie alte lekker onder haar behandeling gekry nie. Vir die kleinjong het sy ekspres op velle van springbokke laat speel, en het die boog wat sy vader vir hom gemaak het, met vleis van springbokke gesmeer. Daarom het die gees van die springbokke so in die kleinjong en sy boog getrek dat al die springbokke vir hom bang was en hom nooit ’n kans gegee het om naby hulle te kom nie. Maar die seun [146]was net soos sy pa—baie vlytig—en het baie pyle, klein en groot, gemaak. Maar met hulle op ’n afstand raakskiet, was net verniet. Vir die arme meisiekind het die stiefmoeder totaal verwaarloos en het haar baie honger laat ly; die arme kind het meestal van goggatjies en vlieë moes lewe. Die vader se raas en rusiemaak oor die slegte behandeling van sy kinders het niks gehelp nie. Hy is die meeste van die tyd in die veld om te jag om vir hulle kos te soek. Kom hy tuis, dan het hy so goed en lief as hy in staat was, vir sy kinders gesorg.

Maar daar was geen groei in sy kinders nie; hulle was en bly maar twee brokkies van die menslike geslag.

Een aand toe dit skemer word, stap die stiefmoeder na die hutte van haar bure om te gaan dans; want daar was baie heuning daardie dag uitgehaal en na daardie hutte toe gebring. Die vader van die twee kinders het ook ’n sakvol heuning gekry; maar hy was nog in die veld, op pad huis-toe. So sit sy twee kinders alleen tuis.

Die gestorwe eie moeder van die twee kinders stuur toe vir Uil na haar kinders toe. Uil is ’n towenaar en kan hom in ’n man of uil verander. En hy doen hom toe voor as die regte vader van die kinders. Hy neem die twee kinders met hom saam na die klipkranse waar hy woon. Hy gee hul toe veldkos en veldvrugte, wat daar baie van was; dog die kleinmeidjie was maar te gewend om goggatjies te eet, sodat sy liewers haar gewone kos verkies as veldkos. So verander Uil die seun in ’n ystervark; sy pyle, wat baie was, verander hy in penne, wat in die karos van die kleinjong bly vassteek, sodat niemand hom durf [147]aanrand nie. En die meidjie verander hy in ’n vlermuis, wat van goggatjies, tot vandag toe nog, lewe. Hy wys hul toe ’n spelonk aan om in te woon. Ystervark kruip in ’n skeur, en Vlermuis gaan bo aan die gewelf van die spelonk hang.

Voor die towenaar hul verander het, het hy hul eers verbied om weer terug na die hut van hulle ouers te gaan; en ná hy hul verander het, het hy hul vuurvliegies gegee om te eet, sodat hul goed in die donker kan sien. Van toe af kan hul net in die nag sien en was blind in die dag as die son skyn. Kom hul in die daglig uit, dan hol Ystervark teen die klippe en bosse vas, en Vlermuis vlie teen bome en rotse aan, waardeur hul baie seer kry.

Van daardie tyd af woon Ystervark en Vlermuis saam in gate.

Die ou towenaar het hom dadelik weer in ’n uil verander; ook het hy die afgestorwe moeder van die twee in ’n ander soort uil verander, sodat sy snags haar kinders kan sien en vir hulle besoeke bring. Sy gaan toe bo in die krans in ’n klipskeur slaap wanneer dit dag is, terwyl haar kinders onder die krans in die grot en klipskeur gedurende die dag hulle rus neem.

Saans as die son ondergegaan is, as een ster ná die ander dof aan die hemel begin te vertoon, is die moeder-uil die eerste om haar plek te verlaat. Voor sy uit haar skuilplek kom, open sy haar groot oë, rek dit sku vir die lig oop en kyk of dit dalkies nog te lig is. Vind sy dat daar nog te baie lig is, dan byt-byt sy met haar bek asof sy wil vra: „Wanneer word dit dan regtig donker? Ek het mos [148]al baie honger.” Sy gee ’n lui gaap, knyp haar oë vir ’n rukkie dig toe om nog ’n bietjie te sit en wag. Is dit naderhand donker genoeg na haar sin, dan verlaat sy met ’n gil haar plek en gaan naby in ’n boom sit om te kyk of dit nou regtig donker genoeg is. Sy vlie weer verder, en dan weer verder, tot sy ver is. Gewaar sy ’n slapende voëltjie, dan pak sy hom; of sien sy ’n muis, dan val sy op hom aan en sluk hom heel in. Dog die toestand waarin haar twee weeskinders verkeer, grief haar diep; en af en aan gee sy ’n diep kreun, asof iets haar hart erg pynig.

Daarna kom Vlermuis met haar klein karossie uit. Sy hou met haar handjies twee punte vas om as vlerkies to dien. Vrolik vladder sy deur die lug en begin dadelik die muskiete en klein goggatjies wat rondvlie, te vang. Onder die oorhangpunte van die krans soek sy spinnekoppe en vlieë; ook die spinnerakke tussen bosse versuim sy nie om te deursnuffel nie. En al wat in die gogga-soort daaraan kleef, is hare.

Arrie, wag, hier kom Ystervark uit. Hy luister of hy niks hoor nie. Daarvoor staan hy botstil; want hy kan baie fyn hoor. Voetjie-vir-voetjie, sonder raas, gaan hy voort—altyd met die neus teen die wind op; want net so fyn as sy gehoor is, net so skerp is sy ruik ontwikkel. Hy ruik hierdie kant toe, dan weer daardie kant toe om seker te maak of alles veilig is. Ag hy dit raadsaam, dan stap hy huiwerig voort; want hy hou hom nog altyd gereed om kortom na sy nes om te spring as ’n gevaar hom skielik bedreig. Al die tyd vladder sy sustertjie, Vlermuis, vrolik oor hom in die lug. Sy is bly om hom weer te sien.[149]

Saam gaan hulle veld-toe; hy grawe veldkos, sy vergas haar nog steeds aan die vlieënde goggatjies. Hulle slaan ag op die sterre en melkweg om te weet wanneer dit weer dag sal word; dan moet hul tuis wees—nog voor die eerste ligstrale die dagbreek aankondig.

Vlermuis is veilig, want sy kan so lugtig met haar karosse deur die lug omkantel en ronddartel. Maar Ystervark glad nie—al het hy al sy pyle (penne) met hom meegebring. Hy kan met sy pyle maar net ’n klein entjie ver skiet. (Dis ’n Hottentot- en Boesman-bygeloof.) Maar ver kan hy glad nie skiet nie.

Wag, hier kom Jakkals aan. Ystervark gaan stilletjies met sy kop in die bos staan, en hy wys sy penne. Jakkals kom agter verby. Ystervark is klaar en los ’n paar van sy pyle (penne) op Jakkals en neem die vlug. Hy vlug in ’n nou gat—kop na voor en die punte van sy penne na agter—en staan in verdediging klaar vir Jakkals. As Jakkals goed oortuig is dat dit nou neusie-verby is met hom, dan draai hy droë-bek om en vat sy ou gewone draffie glad in ’n ander koers om iets beters te gaan soek.

As Ystervark bemerk dat alles weer veilig is, dan begin hy weer veldkos te grawe tot hy genoeg het. Al die tyd hou hy die sterre en melkweg (of hemelstraat) in die oog om te sien hoe lank hy nog kan wei, rondslenter en plesier neem.

Vlermuisie word haastig en roep hom om te kom om huis-toe te gaan. Ewe plesierig maak sy tuimelinge deur die lug en vat koers na hulle slaapplek toe; want die sterre en melkweg lê in die posiesie om die spoedige aanbreek van [150]die skimmeldag aan te kondig—en dan moet hul al veilig op hulle rusplek wees.

Ystervark volg; want hy weet as Vlermuis trek, dan is dit tyd om nie langer te versuim nie. As hy naby sy nes kom, stap hy eers om en om tot hy onderkant die wind kom om te ruik of dit daar by sy nes nog alles veilig is. Hy het sy toorgoed om sy voorlêers aan slaap te maak.

Maar die Boesmans ken al die laaie van Ystervark. Hulle wat by die bek van die nes voorlê, voel so vaak dat hul nie hulle oë langer kan oophou nie. Dog hul weet dat dit Ystervark se paljas is; so probeer hul hard om nie te roer of te slaap nie. Hulle gewaar vir Ystervark—hulle skiet, die pyl tref, en daar het hul hom! Maar gewaar Ystervark vir hulle die eerste, en vroegtydig, dan is dit Piet-se-twak met hulle: Ystervark neem die spat, en dis dan die laaste sien van die blikkantien![153]

[Inhoud]

No. 45.

Twee in een Skot.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n skildering uit die lotgevalle en bygeloof van Boesmans.

Dit was ’n voorspoedige dag op die jagveld: ’n Boesman en sy broer het met twee springbokke en ’n jakkals die aand tuisgekom. Toe dit skemer word, begin die slagtery en braaiery van springbokvleis, terwyl dié van die jakkals in ’n pot gekook word. Een van die meide het die lewer en hart van die jakkals vir haar persoonlik in ’n klein potjie op die vuur gesit, want hiervan mag die kinders nie eet nie—vernaamlik die hart. ’n Jakkals is maar vreesagtig; en as kinders sy hart eet, dan groei hul as bangbroeke op en word so lafhartig dat hul vir die kleinste geritsel nes ’n jakkals weghol; daarom gee Boesmans nooit die jakkals se hart aan hulle kinders nie. Maar die oues wat nie meer bang ken nie, mag dit eet; en daarom het die meid dit afsonderlik vir haar in ’n potjie klaargemaak.

Hulle het daardie aand baie geëet; die meid was nie alleen met die jakkals se harslag tevrede nie, maar het haar maag eers met springbokvleis oorlaai en het toe vir haar verder aan haar lekkerny vergas. Bowendien het sy nog ’n bietjie ongesteld gevoel, so het sy vroeër as die ander onder [154]haar velle ingekruip. Die ander het ook nie lank versuim nie en het, versadig, haar voorbeeld kort daarop gevolg.

Toe alles rustig was en algar hardop snork, kry die meid ’n aaklige droom; en sy begin te skree of sy vermoor word. Die ander skrik wakker van haar geroep. „Hier is ’n leeu! Hy byt my! Help, help!” skree sy, en sy ruk haar kop onder die velle toe.

Dit word toe ’n gedoente—die mans is verwar, die kinders huil, en die meide druk hul koppe onder hulle karosse toe.

„Waar, waar is die leeu?” roep die mans.

„Hier by my! Toe kom help!” antwoord die meid.

Dis ’n kwessie van lewensgevaar; die mans gryp hulle boë en asgaaie en soek die danige leeu. Hulle vind niks nie: toe roep haar man uit: „O, ek weet wat dit is; dis die hart van die jakkals wat jou nou kom bangmaak!” En daar was ’n gelag van die ander wêreld. Almal is nugter wakker, en hul begin weer te braai.

Die meid was ’n bietjie skaam, en om die saak reg te plooi merk sy op: „Wag, julle sal sien dat hierdie droom, wat my kom waarsku het, nie pure verniet is nie.”

„Aag, bog,” roep haar man uit, „drome lieg!” (want Boesmans heg nie so baie waarde aan drome nie, daar hul so baie keer bedroë daarmee uitgekom het). Ná hulle weer geëet het, gaan hul weer inkruip en slaap. Skemerdag was die klomp almal wakker en braai toe die vleis wat nog oorgeskiet het; want die dag om weer te gaan jag, breek aan.[155]

Onder die eet sit die man van die meid meteens doodstil en sonder om ’n woord te praat; hy dink diep ná hy sy mondvol vleis haastig ingesluk het.

Algar merk dit en sit hom verwonderd aan te kyk, sonder om te vra wat dit beteken. Hy onderbreek die stilte en sê: „Ek voel my vleis op my rug kriewel; dit beteken dat ’n gensbok hier naby sy rug met sy horing krap. Ek voel nou die gekriewel van agter my nek af tot in die waai van my bene; dit beteken dat ons gensbokke gaan skiet en huis-toe dra, want dis hulle bloed wat agter my rug aftap.” Hy kyk op na die kinders en sê: „Toe kinders, loop koes-koes en klim daardie koppie uit en kyk of jul nie wild gewaar nie. Maak gou en kom vir ons dadelik sê.”

Sonder om ’n oomblik te wag spring die kinders weg, buk-buk deur die bossies; haastig, dog onopgemerk, beklim hul die koppie en saai hulle oë oor die omliggende veld. Meteens fluister een van die kinders: „Mintig, kyk hier vlak voor ons onder die koppie wei ’n klompie gensbokke!” Saggies hol hul terug en kom dit aan hulle ouers vertel.

Die son wou net uitkom.

Die mans gryp hulle boë en pylkokers; hul kyk na die koers van die wind om juis te weet op watter plek langs die koppie hul die wild moet gaan voorlê. Duik-duik hol hul soontoe. Elkeen vat daar vir hom ’n wegkruipplek; en die man wat die krieweling agter sy rug gevoel het, steek hom agter die stam van ’n dik boom weg, en hy loer.

Goeie genugtig, wat sal hy sien! Kort voor hom lê ’n knewel van ’n leeu, wat ook die gensbokke voorlê. Die Boesman werp ’n blik teen die boomstam op om te sien of [156]daar maklik opklimplek is. Toe hy daarvan oortuig was dat hy sonder om te sukkel die boom kan in vlug, rig hy weer sy oë op die leeu, wat die Boesmans nog nie gewaar het nie; want die leeu se aandag was te onverdeeld op die gensbokke bepaal. Ook die wild het die wind aan hulle sy en merk nog geen onraad nie.

Wat nou gedoen? Stil lê is die veiligste vir die Boesman.

Die bokke wei nader en nader. Die leeu ag dit sy tyd om sy dodelike spring te maak. Hy raap hom op, en daar het hy ’n groot gensbok. Die ander bokke skrik, en hulle kom so naby die ander jagters dat elkeen ’n raakskot kry; net die een in die boom skiet nie. Toe eers gewaar die leeu die Boesmans, en die ander Boesmans gewaar ook vir hom. By hierdie tyd sit die een Boesman al in die boom en roep aan sy maats uit om ook in bome te klim, want hy sal ’n geraas maak dat die leeu hom in die oog moet hou.

Die leeu staan by sy bok wat hy gevang het, kyk na die een in die boom en waai sy stert. Af en toe werp hy dwars blikke om die doen en late van die ander jagters gade te slaan.

Dog hy was onder pylskot van die boom. Die pyl vlie en tref die leeu in die week van sy kruis—en dit is oorgenoeg!

So het die boomklimmer ’n gensbok en ’n leeu met een pylskot.[159]

[Inhoud]

No. 46.

Die Hamerkopvoël en die Swaweltjies.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is aan my in 1885 deur ’n Transvaalse Boesman vertel.

Die hamerkopvoël weet van meer dinge as ons van weet. Diegene wat verstand het, verstaan wat hy vertel; maar dié wat nie verstand besit nie, weet ook nie om hom te verstaan nie. Hy bou sy huis bo-op ’n oorhangklip van ’n steil klipkrans wat by ’n gat water is. Sy nes maak hy van stokke en gras, en dit is so groot dat dit ’n halwe wa-vrag hout is. Die deur van sy huis maak hy op die randjie van die oorhangklip, sodat hy maklik na onder in die gat water kan kyk.

In die water sien hy die gedaante van bome, berge wolke, van die son, maan en sterre. En hy verstaan alles wat dié goeters vir hom kom vertel. Hy gaan dan die tyding aan die betrokke mense vertel; want hy bly nie stil as hy iets weet nie.

Die swaweltjies (kransswaweltjies) maak weer hulle huisies onder die oorhangklip. Die nessies lyk soos die maan, waarvan die twee horings na bo staan. Die kransswaweltjies bou hulle huisies van klei op ’n hoop en maak nie tuite vir deurtjies soos die huisswaweltjies nie. Daarom [160]lyk hulle nessies in vorm nes die afsterwende maan; want Hamerkop het hul gesê om dit so te bou.

Nou, die maan, as hy ’n bak na boontoe maak, dra die lyke van mense wat net gesterwe het. En die swaweltjies is gestorwe kindertjies wat weer lewendig geword het. As die maan weer half word, dan verdwyn die holte, en dan is daar nie meer plek vir die kindertjies nie; so val hul uit die lug en word dan swaweltjies. Hamerkop gaan hul dan haal en bring hul na die nessies wat net soos die gehoringde maan lyk. Ja, hy leer hul selfs om so ’n patroon van nessie te maak; en die swaweltjies hou net baie daarvan.

Hamerkop het die swaweltjies aan Son gegee. As dit winter word en Son trek noordwaarts weg, dan roep hy sy kindertjies om saam te gaan waar hy lekker gaan skyn en waar hulle by ’n ander Hamerkop kan gaan woon. Op hulle reis deur die lug soontoe, en met hulle terugreis hiernatoe, sien en gewaar hul baie dingetjies. Dit alles gaan hul aan Hamerkop vertel. Hy sit dan mooi na hulle tierelier te luister, en dit maak hom ook nog slimmer.

Een aand toe dit donker word, kyk Hamerkop meteens voor hom uit sy nes op die water (want die bek van sy nes gaan skuins van onder in). Hy sien in die water dat ’n groot moordbende van lang swart mense in aantog is. Hy vlie dadelik uit en roep vir Uil, wat ook daar naby sy huis in dieselfde krans het, en sê dat hulle twee die Boesmans moet gaan waarsku dat hulle lewe in gevaar is.

Die twee vlie toe weg en kom by die eerste en verste Boesmans hulle kraaltjie aan. Hamerkop vlie heen en [161]weer in die skemer oor die hutte en maak sy skril geluid keer op keer. Uil gaan in ’n boom sit en sit daar te hoe-hoe. Dog dit was dom Boesmans wat nie verstaan nie; hulle klap op hulle hande om vir Hamerkop weg te ja, en die kinders neem klippe en gooi Uil daarmee. Die gevolg was: albei, Hamerkop en Uil, vlie bedroef weg.

Hulle twee kom toe terug en gaan by die twede Boesman-kraaltjie aan, en hulle maak net soos hul by die eerste kraaltjie gemaak het. Ook hier begin hul die twee weg te ja; maar daar was ’n stokou Boesman, wat slim is en dinge verstaan. Hy roep uit dat die ander nie so moet maak nie. Hulle hou dadelik op en hol na die ou man toe om te hoor wat hy te sê het; want algar het hom as baie verstandig beskou.

Hy antwoord toe: „Arrie, waarom doen julle sulke dinge? Hoor jul nie dat die twee voëls ons kom waarsku nie? Wag, stil, laat ek eers hoor wat hulle te sê het.”

Ná die voëls hulle waarskuwing uitgespreek het, vlie hul weg; en toe vertel die ou man dat die twee kom vertel dat ’n moordbende Kaffers in aantog is en dat die statjie se volk gereed moet wees.

Die anderdagoggend toe die swaweltjies uit hulle nessies vlie, roep Hamerkop hulle en sê dat hul in die water moet kyk, dan sal hul ’n moordbende Kaffers in die verte sien aankom. Die Kaffers sal vanaand ’n kraal van die Boesmans aanval, dan sal hul weer baie kinders vermoor, sodat die swaweltjies weer ’n klomp boeties en sussies sal bykry.[162]

Die swaweltjies treur toe oor die slegte tyding; want hulle self was net so deur ander vermoor of deur siekte omgekom. Hulle sweef toe laag oor die water om daarin te kyk om te sien wat in die verte aangaan. Daardie dag egter het stil verbygaan; al wat hul in die water gesien het, is hoe die lang swart mense in aantog is.

Daardie aand verskiet daar baie sterretjies. Die swaweltjies kan uit hulle huisies op die water sien hoe die sterre heen en weer verskiet. Sommige word benoud en dink dis die swartes wat so met vuur rondsmyt. Dog Hamerkop kom uit en kyk hoe die sterre in die lug nes vuurstompe rondvlie. Hy roep uit: „Nou moor die groot swartes die klein bruinetjies uit. Ek kan sien, dis by die eerste en verste kraal waar Uil en ek gisteraand was. Hulle daar wou mos nie vir ons glo nie.”

Hy kyk gedurig in die water en in die lug. Later in die nag begin weer enige sterre met langer sterte te verskiet. Die swaweltjies word toe weer vir die skietligte bevrees en begin weer te woel.

Maar Hamerkop sê: „Wees julle maar gerus; die groot swartes maak nou die aanval by die twede en naaste kraaltjie, waar Uil en ek gisteraand was; die Boesmans sit daar gewapen in ’n kliprandjie en skiet die groot swartes by hope dood—ek kan in die water sien hoe hul omrol.”

Maan was net by hierdie tyd weer bak na bo. Die dooies lê weer in die holte; maar ná enige dae was die hol plek gelyk toegegroei (eerste kwartier), toe val die liggame van Maan af; en toe Son uitkom, stuur hy die bruin kindertjies van die Boesmans lewendig na Hamerkop toe. [163]Hulle word swaweltjies en word ewe lief deur die ander boeties en sussies verwelkom. Dadelik begin hul naas die ander vir hulle halfmaannessies bou, sonder dat die ander swaweltjies hulle belet.

Vir die groot swart Kaffers het die Son in swart kraaie verander—die soort kraaie wat so in die mielielande kan pla; want Kaffers leef mos van mieliepap. Net soos die Kaffers kan hard praat en raas, net so ’n rumoer skop daardie swart voëls op. Daarom wou Hamerkop vir hulle nie by hom in die krans hê nie. So het die swartgoed getrek en woon weer waar hul vandaan gekom het, en pla daar tot vandag toe nog straf in die mielielande; terwyl Hamerkop en die kindertjies van Son, die swaweltjies, tot vandag toe nog in kranse saam in liefde woon.[167]

[Inhoud]

No. 47.

Die Wolke.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n blote beskouing oor wolke en wat enkele wolke beteken—natuurlik ’n Boesman se opvatting.

Wolke! Wat vir goed is dit? Algar die wolke is nie van een soort nie. Daar is wolke wat reën uitgiet, en daar is van hulle wat droog is en nie water bevat nie. Dan is daar donderwolke, wat water, vuur en swareweer-stene bevat; en daar is wat net hare, vere en wind bevat. So is algar die wolke glad nie eners nie.

Die wind is die asem van al die goed wat lewe. So is die stormwinde die asem van Grootvoël, wat in ’n gat in die berge woon, wat hom in wolke kan wegsteek en wat dan na die see vlie om reën te gaan haal. Dan kom hy met groot gedruis in die wolke; hy blaas met sy bek en klap met sy vlerke sonder om uit die wolk te voorskyn te kom. Daarom waai daar altyd ’n windjie as ’n wolk oor ons koppe heensweef.

As iemand sterf, dan word sy hare wolke. As ’n voël sterf, word sy vere ook wolke. Maar hierdie soort wolke gee nie rëen nie; want hulle is net hare en vere, wat nie water [168]bevat nie; daarom kom hul en verdwyn sonder om ’n druppel te laat val. Want hulle is hare en vere wat somar maklik deur die asem van Grootvoël verjaag word.

As iemand gesterwe het, dan staan sy spore nog vars in die sand asof die persoon nog leef; maar hy is dood. Sy asem, wat sy wind is, het klaar uitgewaai, sy hart het omgekantel en kan nie meer roer nie. Daarom kom die stormwind en waai die spore van die afgestorwe persoon gelyk met sand. Want waarom moet sy spore nog daar in die sand bly as hy reeds dood is? Is die spore in klei sigbaar sodat die wind die klei nie kan stukkend breek nie, dan giet die wolke ’n stortbui uit en wis die spore uit. Want hy vra ook: as ’n persoon dood is, waarom moet sy spore nog lewe?

As die een se lyk op die aarde dood lê, dan kom die wind en maak ’n sterk warrelwind; en dié vat die lyk op—al is hy onder die grond begrawe—en bring dit na die hol bak wat tussen die twee opstaande horings van die nuwe maan is, en hy plaas die lyk saggies daarin neer. Daarom is dit dat die Boesmans ’n lyk in ’n sittende posiesie begrawe: hy moet te enige tyd gereed wees om op te staan.

Voor die Dood in die wêreld deur die Haas gekom het, het die mense en diere maar geslaap tot dit nuwemaan geword het; hulle het dan weer nes die maan lewendig geword. Maar nou moet hul lank in hulle grafte sit eer hul weer eendag sal lewendig word. Dan kom die persoon se wolk neer en dwaal nes ’n swaar mistige weer oor die graf om die opstandelinge te bedek, sodat die ander nie kan sien dat die dooie weer lewendig geword het nie. Die hare, [169]of vere, van die wolk kom weer op daardie een se lyf groei; sy wind gaan weer in hom; en die een stap rond asof hy nooit dood gewees het nie.

As ’n ongedierte iemand verskeur en opgeëet het, dan bring die mistige weer al die dele van sy liggaam bymekaar; die dele word klam en nat en groei weer aan mekaar vas, net soos die persoon of ding tevore gewees het.

So moet ons die wolke respekteer en eerbied vir hulle betoon. Doen ons dit nie, dan bring hul nie vir ons reën nie, dan kom hul nie om ons klam te maak en op te wek nie. Die berge en rotse het die wind en wolke nie gerespekteer nie, maar het hul verwens en uitgeskel toe die storms so baie stof en water op hul uitgegiet het. Daarom sal hulle nooit weer lewendig word nie; maar vir altyd slaap, slaap en slaap.

Grootvoël maak wind wat stofwolke op die aarde voortjaag; hy maak droë wolke bo in die lug en laat die mistige weer tot op die grond kom. Toe die rotse gelewe en gejag het, was die mistige weer toegetrek, en die stof het in hulle oë gewaai, sodat hul die wild nie kan raaksien of skiet nie. Daarom het hul die wolke en wind verwens; en dis daarom dat hul nooit weer sal wakker word nie, maar vir altyd dood bly.

En die ding het so gebeur:—

Die rotse was eers Boesmans van die ou geslag. Hulle was baie; en misskiet?—soiets het hul glad nie geken nie. Hulle het altyd om hierdie rede baie kos gekry, sodat hul spekvet geword het. Daarom kon hul later nie meer agter [170]wild hardloop nie. Die enigste plan vir hulle was toe om onderkant of dwars teen die wind die wild te gaan voorlê.

Eendag met jag sien hul baie springbokke in ’n smal laagte aankom. Hulle gaan posiesie neem alkante in die randjies. Die wind waai toe koud, en hulle oë begin van die koue te traan; ook het daar sand en klippies in hulle oë gewaai. Toe begin hul op die wind te skel; waarop die wind nog ’n bietjie strawwer waai. Dit maak hul boos, en hul verwens die wind hier in en daar uit. Toe word die wind woedend, en ’n storm bars los. Toe kan ’n mens hul hoor te kere gaan. Want by hierdie tyd was die springbokke so naby dat hul onder pylskot was. Dog die stof van die getrap van die bokke was so donker dat hul geen bok duidelik kan erken nie; en die storm was so sterk dat dit al die pyle in ’n ander rigting dryf. Die Boesmans het al hulle pyle op die vlugtende bokke opgeskiet, maar nie een bok geraak nie. En wat die Boesmans nog meer woedend gemaak het, is dat met die geweldige span van die boogsnare het die velle van hulle duime en voorvingers afgeskeur, sodat hul vir ’n rukkie daardie seer vingers met jag nie kon gebruik nie. Toe was hul erg boos en doen niks anders nie as op die wind en die stofwolk te skel. Hulle gaan toe hulle afgeskote pyle tussen die gras en bossies soek. Met baie moeite en soek het hul die meeste gekry; dog die springbokke het ook baie stukkend getrap, sodat daardie stukkende pyle onwettig was.

Die wind en wolke was baie verontwaardig oor die ou Boesmans dat hul durf so swets en skel. Hulle kom ooreen om ’n groot bende Kaffers op die Boesmans af te stuur. [171]Die Boesmans het nog altyd die Kaffers in vroeër dae teruggeslaan. Maar nou sal hul dit nie meer regkry nie.

Die bende het gekom. Die wind begin sterker en sterker te waai tot dit in ’n storm losbars. Die wolke het uit die lug gekom en het ’n donker misbank oor die omliggende grond versprei. Die getrap van die voete van die Kafferbende wek ’n stofwolk in die droë mistige weer op. Die wind versamel dit alles en dryf dit oor die ondankbare Boesmans. Toe was dit geen lewensgevaar vir die Kaffers meer om al die Boesmans te dood nie; en daar het nie een van hulle oorgebly nie.

Daarop versteen die verstrooide lyke van die dooie Boesmans, en hulle word rotse. Die wind wou hul nie meer opwek nie; en die wolke giet hul wel gedurig nat, maar die water gaan nie eens deur die vel van die rotse nie, sodat hul daarvan geen nut ontvang nie. Daarom het die wind en wolke besluit om nooit weer die rotse op te wek nie; nou word hulle geslaan, getrap en geskop van algar wat by hulle verbykom.[175]

[Inhoud]

No. 48.

Mierkatte en Erdmannetjies.

OPMERKINGS:—In hierdie storie word ons iets oor die lewenswyse van mierkatte en erdmannetjies vertel. Die erdmannetjie is die waaierstertmierkat, wat niks anders is nie as ’n eekhorinkie wat in die grond saam met mierkatte woon.

Daar was ’n droogte wat strawwer en strawwer geword het; die waters gee op, en die wild trek weg. So moes die Boesmans en diere ook maar volg—almal in die koers van die wild.

Twee huisgesinne van Boesmans het saamgetrek. Op pad het hul dit met kos en water baie swaar gekry, en hulle kinders huil net gedurig oor kos en water. Dit het die ouers hulle harte net seer laat voel, sodat hul soms saam met hulle kinders wou huil. Hier en daar kry hul ’n veldkossie of tel ’n skilpad op of kry ’n nes van ’n lammervanger of kuikendief waarin òf eiers òf kleintjies is; ook moes hul soms muise en akkedisse vang om daarmee hulle kinders in lewe te hou.

Maar hoe omtrent water? Dit was hulle doodsteek!

Een aand toe die kinders al van dors wou sterwe en hul algar met hulle koppe op die grond radeloos lê, hoor die een ou Boesman vir Groot-Waterslang onder die grond [176]kruip. Dis die groot slang met die skitterende steen op sy kop, wat vir die Boesmans water in die dor streke maak.

Die ou man begin met Waterslang te praat; hy strooi gemaalde boegoe op die grond dat die slang kan ruik en moet weet dat hy water moet kom maak of aanwys. Hy het die slang geprys, toe weer mooi gepraat, totdat die slang onder die grond antwoord gee en sê dat as dit in die oggend lig word, sal hy vir die Boesmans kos en water hê.

Die treurige nag het swaar verbygegaan. Eindelik breek die dag, en die slang onder die grond roep uit: „Stap na daardie bome waar daardie groot rotse is; daar op daardie plat klipplaat is ’n baie diep gat water, wat nooit leeg word nie. Neem julle boë saam en julle sal daar iets te skiet kry.”

Die mans, ewe bly, gryp die leë volstruiseierdoppe; ook neem hul hulle boë en pylkokers mee. By die water kry hul vir jakkals met sy vrou en kinders. Hy hol lafhartig weg, dog die Boesmans skiet sy vrou en al sy kinders dood. Toe drink hul en maak die leë eierdoppe vol om dié aan hulle vroue en kinders te bring.

Dit was nie eens nodig nie, want by hierdie tyd kom die meide met die kinders aangestap. Hulle drink en drink asof hul nooit kan klaarkry nie. Ná die dors verslaan was, maak hul vuur en begin somar al die vleis van die jakkalse te braai; en op hierdie manier stil hul ook die groot honger van hulle en van die kinders. Toe haal hul die hongergordels, of hongerbande, van hulle lywe af en voel toe of [177]hul nou lekkerder kon asem skep. Van die jakkalsies hulle velle word toe kinderkarossies gemaak.

Jakkals, natuurlik, voel bedroef oor sy vrou en kinders wat dood is en wat die Boesmans nou sit en braai. Hy kry die ruik van hulle gebraaide vleis, en hy sit op veilige afstand bitter te tjank. Intussen roep hy uit: „Pas maar op vir julle kinders! As ekke wat Jakkals is, hulle in die hande kry, dan sal ek hul wys hoe dood lyk.”

Die ou Boesman roep terug: „Solank ekke wat Boesman is, lewe, sal jy wat Jakkals is, vir hulle nie in hande kry nie—dit beloof ek jou!”

Waarop Jakkals teëwerp: „’n Dag is ’n dag dat ekke hulle in hande sal kry! En dan sal hulle dit gewaar!” En hy tjank en huil weer bedroef. Om nog veiliger te wees, draf hy weg na die randjies se kant toe en gaan daar muise vang.

Nou sien die Boesmans daar naby die nes van ’n lammervanger (voël). Hulle gaan die kleintjies, wat al vol vere was, uithaal; en hul braai dié ook vir hulle kinders.

Lammervanger—net soos Jakkals—voel bedroef en huil oor die kinders en roep ook uit: „Pas op vir julle kinders! Waar ek hul kry, daar sal dit nie goed met hulle afloop nie!”

Andermaal roep die Boesman terug: „Solank as ekke wat Boesman is, nog lewe, sal jy wat Lammervanger is, vir hulle nie in hande kry nie!”

Lammervanger gebruik dieselfde woorde as Jakkals en werp teë: „’n Dag is ’n dag dat ons ontmoet. Pas maar op soos jy wil!”[178]

Daar die Boesmans moeg was en nou vereers genoeg kos en water gekry het, besluit hul om daar op die plek enige dae oor te bly om die water op te pas en om te kyk of daar nie wild sal kom drink nie. Dan kan hul daardie wild ook skiet.

Daar het genoeg wild gekom, want Waterslang het mooi vir sy mense gesorg. En daarby het hy hul vertrou. As hy êrens gaan wei, steek hy die blinksteen wat op sy kop is, sorgvuldig weg eer hy veld-toe gaan.

Nou, as iemand in besit is van so ’n steen, is hy vir altyd gelukkig; daarom kom daar ontroue gedagtes by die Boesmans op, en hulle maak plan om hulle weldoener van sy kroon te ontroof. Hulle loer toe die groot slang af om te sien waar hy die skitterende steen wegsteek. Toe hy vèr in die veld was, neem hul die steen, en hulle algar vlug daarmee ver weg.

Toe die slang terugkom, soek hy na die steen, maar kon dit nie vind nie. Dog Lammervanger, wat al die tyd in die boom gesit het, het gesien dat die Boesmans die steen gesteel het en daarmee gevlug het. En hy vertel dit aan die groot slang.

Net toe kom daar leeus water drink, en die slang vra vir die leeus om die Boesmans te agtervolg en hul dan dood te byt.

Die leeus was dadelik gewillig uit erkentlikheid dat die slang vir hulle water gemaak het; en ook, hulle het net lus vir Boesman-vleis gehad. Hulle vat die spore, loop vinnig en vind die Boesmans aan slaap. Hulle byt die grotes dood, en die kinders vlug in nou gate, waar die leeus hul nie kan [179]bykom nie. Hulle eet toe die oues op; dog die kinders bly in die gate. Die slang kom toe daar en was weer baie bly om sy gewaardeerde steen terug te kry. Hy het geweet die kinders was onskuldig, so doen hy aan hul niks nie.

Dog Jakkals en Lammervanger het anders gedink en het hul voorgeneem om wraak uit te oefen, so het Lammervanger oordags en Jakkals snags die kinders opgepas. Om hierdie rede het die arme goedjies ’n baie ongeruste lewe gely. Die kinders wat karossies van wildvelle gehad het, het mierkatjies geword; en dié wat karossies van die jong jakkalsies se velletjies gehad het, het erdmannetjies geword; dog hulle het altyd saam in dieselfde gate gewoon.

Soggens, as die son uitkom, dan steek eers een sy koppie by die gat uit om te kyk of hy nie dalkies vir Jakkals of vir Lammervanger sien nie. Gewaar hy niks nie, dan kruip hy uit die gat en gaan daar penorent regop in die son sit om hom eers warm te maak. Dan roep hy die ander en sê vir hulle dat dit veilig is en dat hul gerus maar kan uitkom. Die ander kom dan ook kersregop in die sonnetjie sit. Daar gesels hul nou oor wat hul gaan doen. Wei-wei stap hul van die gate veld se kant toe. Vuur kan hul nie maak nie, daarom sit hul in die sonskyn; water drink hul nie meer nie—om die waarheid te sê, hulle durf nie so ver stap nie; daarom moet hul maar die doutjies van die plante aflek, en verder grawe hul sapperige wortels en plante en soek goggas om te eet; want hulle ouers, wat eers vir hulle rysmiere gegrawe het en wat vir hulle vuur gemaak het, is nou dood en deur die leeus opgeëet en kan dus vir hul teen aanvalle nie meer beskerm nie.[183]

[Inhoud]

No. 49

Die Boom wat al maande sterf en weer lewendig word.

OPMERKINGS:—Hierdie storie is ’n karakterskets van ’n deugniet wat tog eindelik tot groot nut geword het. Dus is kwaaddoen en rowe by hom nie so ’n groot kwaad gewees nie.

Tatsie was ’n wonderlike Boesman van die ou geslag. Hy het geroof, gesteel gemoor, en kon daarby toor soos min hom kon nadoen. Hy het ’n onverskillige manier oor hom gehad—so ’n traak-my-nie-agtige manier, wat maar min bure beval het. Sien hy iets waarin hy sin het, dan duur dit nie te lank nie, of hy het dit—hoe hy dit in hande kry, is hom onverskillig. Al maak hy die eienaar dood, dis vir hom of hy ’n vlieg om die lewe gebring het; slaan hy die eienaar daaroor dat dié op die grond bly lê, dan is dit vir hom of hy ’n slang magteloos gemaak het. En die ergste van alles is, niemand kon hom baasraak nie.

Gejag het hy nooit nie. Maar om die jagters op te pas, o ja, dit kon hy goed doen. As hul wild huis-toe bring, dan gaan hy eenvoudig aansit om saam te eet—die lekkerste en vetste stukke vleis is syne. As ’n meid boesmanrys gaargemaak [184]het, dan gryp hy die pot voor haar weg en eet hom eers knuppel-versadig; en dan eers sal hy daaraan dink om die pot na haar en haar kinders terug te stoot—dis te sê as hul mooi praat. Maar raas hul met hom, dan smyt hy eenvoudig die boesmanrys in die vuur en gooi die pot boonop flenters. Gaan die kinders water haal, dan vat hy die water uit hulle hande, drink dan tot hy nes ’n modderpaddatjie opblaas en gee dan die orige water terug—dis te sê as hul mooi praat. Maar skel die kinders op hom of sê dat hul dit aan hulle ouers gaan vertel, dan sny hy eenvoudig die springbokpens waarin die water is, aan stukkies of gooi die volstruiseierdoppe waarin die water is, aan spaanders, en slaan die kinders inkluis.

Hy dra altyd ’n taai en lang lat by hom om almal wat nie vrindelik genoeg na sy sin is nie, uit te piets. Wie hom kwaad maak, kry hy onder die knopkierie.

Om hierdie rede het almal hul maar teenoor hom gedra nes vuur: buitekant mooi en blink, maar binnekant vuurwarm en boos. Hy is dus altyd op valse vrindelikheid vergas geword. As hul met ’n aanvallige laggie vra waarom hy so handel, dan antwoord hy ook met ’n vrindelike laggie dat hy eendag aan al sy weldoeners ’n groot guns gaan bewys.

„Ja,” sê iemand so minlik as hy kan, „Tatsie, jy sal ons glad vergeet. Eendag is jy dood, en dan kan jy niks meer vir ons doen nie.”

„Nou ja, ek meen juis as ek dood is om julle dan te beloon,” was sy versekerende antwoord.[185]

„Nee, Tatsie,” onderskep ’n ander die woord, „jy moet dit liewers doen solank jy nog lewe.”

In plaas om hierop „ja” of „nee” te sê, gryp hy sy lang lat en gee die spreker ’n taai hou oor kop en skouers, en toe brul hy uit: „Ek sê julle mos, wag tot ek eendag dood is!”

Nou is die vraag: Wanneer sal hy eendag doodgaan, of hoe sal hulle hom doodkry?

Op ’n sekere aand sit die kinders skilpaaie te braai. Hulle gee hom ’n vet wyfie om te eet. Hulle sien hy haal die skilpad se hart en lewer uit en gooi dit in die vuur. Hulle vra hom waarom hy dit doen; en eer hy goed oor die antwoord gedink het, sê hy: „As ek die hart en lewer van ’n skilpad eet, dan word ek tydelik nes ’n skilpad self—sonder verstand.” Hy skrik toe hy dit gesê het, en wou dit met ’n ander praatjie oorpraat, dog hy was laat. Maar niemand praat verder daaroor nie.

Een van die listige meide haal onopgemerk al die harte en lewers van die skilpaaie uit en bêre dit in ’n volstruiseier se dop. Toe hy weer ’n ander aand daar kom om saam te eet, steek sy stilletjies een hart en een lewer van ’n skilpad in die stuk vleis wat hy vir hom uitgekies het om te braai.

Ná hy dit gebraai het, sit hy dit smaaklik op te eet. Oor ’n rukkie kon algar bemerk dat Tatsie kort van verstand is—sy doen en late was nes dié van ’n skilpad.

Toe gryp een van die mans sy pyl en boog om Tatsie eenkeer van die gras af te maak. Hy gee Tatsie ’n gifpyl in [186]sy ribbekas, en daar krul Tatsie om; en ná enige oomblikke was Tatsie nie meer lewendig nie. Hulle neem sy lyk en dra dit ’n ent die veld in om deur die ongediertes opgeëet te word. Hulle hoor in die nag hoe die wolwe oor die lyk twis en te kere gaan. Ja, hul hoor selfs hoe hul die bene kraak en kou.

Nou voel hulle harte lekker, want Tatsie sal hul nooit meer kom pla nie, en hy sal ook nou aan sy belofte dink om aan hulle die beloofde weldade te kom bewys.

Maar in plaas hiervan, wat sal hul die volgende oggend sien! Hier kom Tatsie vrolik en sing-sing aangestap. Hul slaan hulle hande van verwondering voor hulle monde, maar sê verder niks nie. Ook Tatsie is volkome onbewus van wat hom oorgekom het—hy vertel net hoe lekker hy geslaap en gedroom het.

By ’n volgende geleentheid doen die meid weer dieselfde ding, om Tatsie ’n skilpad se hart en lewer met sy wildvleis saam te laat eet. Sy het die geheim aan niemand anders vertel nie, selfs nie eens aan haar man nie.

Weer word Tatsie se verstand duislig. Toe skiet hul hom met drie gifpyle; en ná hy dood was, bind hul ’n riem om sy nek, maak daaraan ’n swaar klip vas en gaan hom in die rivier in ’n diep gat water gooi. Die swaar klip sak met hom tot onder op die modder van die gat. So was daar vir Tatsie hierdie slag nie kans om weer lewendig te word nie. Hoe kry hy asem?

Hulle gaan toe gerus slaap en verwag dat Tatsie nou in sy dood die weldade sal kom betaal. Weer sien hul Tatsie [187]die volgende oggend sing-sing aankom; en hy praat net van die lekker slaap, soete drome en die lekker swem wat hy gehad het. Ook hierdie slag hou hul hulle hande op hulle monde, dog praat verder niks nie.

By ’n later geleentheid kom Tatsie weer daar eet, en nogmaals brou die meid hom ’n hart en lewer van ’n skilpad in; en net soos by die vorige geleenthede word Tatsie se verstand stomp. Hy val rûensagteroor en lê vas op sy rug te slaap. Die meid neem ’n groot leë dop van een van die skilpaaie en plaas dit oor sy gesig. Sy asem word sagter en sagter tot hy dood is. Hulle vat sy lyk en sit dit saggies in eerbied op die grond neer, maar ’n goeie ent van die hutte af.

Daardie aand het die nuwe maan net sy verskyning aan die westekant, ná sononder, gemaak. In die nag kom daar ’n warrelwind, en dié neem die lyk na die maan toe om tussen die horings in die hol bak geplaas te word.

Daar het Tatsie nugter wakker geword en kon nie verstaan hoe hy by die maan uitgekom het nie. Ook daar begin hy met die ander gestorwe skepsels ’n bombarie op te skop en word net geniepsig. Hulle word van hom buikvol en wou hom uit die maan smyt. Hy klou aan die een horing vas en hou so wat hy geleer het; dog die punt van die horing breek af, en daar kom Tatsie nog met die stuk maanhoring in sy hand, kop na onder, en val op die aarde dat hy hik.

Maar hy was dood, morsdood van die geweldige val. Nooit sal hy weer lewendig word nie; want daar was net ’n nat kol waar hy geval het, en niks meer nie.[188]

Dog namate die maan dag ná dag groei en groter word, so begin die horing van die maan ook tot ’n boom te groei, en dit word ook groter by die dag: blomme, blare en vrugte kom daaraan; en dit word ’n geweldige groot boom, wat sy takke ver na al kante uitbrei. En toe dit vol maan was, was die boom oorlaai met baie lekker vrugte, wat net soos vleis smaak en wat net so voedsaam is.

Toe kom die Boesmans van alle kante om van daardie lekker vrugte te eet. Dog hulle kan al die vrugte nie baasraak nie, al dra hul ook knapsakke en knapsakke vol weg.

Maar ná vol maan, begin die maan af te sterwe. Hierdie boom doen dieselfde. Sy vrugte word droër en droër by die dag en word net soos biltong. En toe dit haas nuwe maan moet word, was die boom—stam en al—tot op die grond morsdood. Toe treur die Boesmans.

Maar toe die nuwe maan hom weer aan die westekant, ná sononder, vertoon, begin die boom weer uit te bot, gee weer blomme, dra weer vrugte; en toe die maan vol was, was die vrugte weer ryp—en die feesviering het so maand ná maand aangegaan. Daar in die land waar die ou geslag nog lewe, staan die boom tot vandag toe.[191]

[Inhoud]

No. 50.

„Die Dieredans” deur Boesmans uitgevoer.

OPMERKINGS:—Hierdie storie stel voor die wyse waarop Boesmans die diere in hulle danse namaak en naboots; want die Boesman is ’n uitstekende klugspeler, en ’n nabootser soos ons min sal kry. Een aand moes ons met ons vader in die veld naby Katkop aan Sakrivier, Calvinia, vernag. ’n Paar honderd tree van ons uitspanplek af was Boesmans (wat dié dag ’n goeie jag gemaak het) besig om te braai en te dans. ’n Ou vrind wat met die Boesman-taal en -gewoontes goed bekend was, stap mee. Ná hy aan ieder ’n pruimpie tabak gegee het, vra hy die Boesmans om die dans van die diere uit te voer. Onder die verrigtings kon hy ons die nodige inligtings gee. Verder in dieselfde jaar, op Vryegans, Agter-Pêrel, het ’n Boesman, Hans, met ons saam vee opgepas. Van elf- tot drie-uur in die dag staan die vee onder die eikebome, daar die blindevlieë en muggies hul so pla; dan het ons wagtertjies baie tyd om te speel, en Hans het ook oorgenoeg tyd om sy stories te vertel, sy klugspele uit te voer en te dans. Sy beloning is: ons oorskietkos en koffie. So het baie van daardie deuntjies en woorde van die riele ons bygebly, wat ons ook later aangeteken het. Byna al die diere kom aan die beurt; dog ons gee slegs enige, om sodoende die leser nie te verveel nie. Toe ons ’n kind was, was ons nogal ’n taamlike ekspert om riele uit te kerf.

[Inhoud]

Die Kameel se Dans.

Hier word natuurlik die kameelperd bedoel, wat die geleerdes giraf noem. Baie van die reëls en parte word oor [192]en oor herhaal, daar Boesman-gedigte nie ’n groot verskeidenheid oplewer nie. Die nabootsings is moeilik op papier terug te gee. Onder ramkie- en tamboerspel lui die dans as volg:—

Boem, boem, boem! Ting, ting, ting!

Daar kom hy aan! Daar kom hy aan!

Kop in die lug, stert na die grond.

Boem, boem, boem! Ting, ting, ting!

Hier kom hy aan, hier kom hy aan!

O hy—stap so wyd, hy vat sy tyd!

O hy—stap so wyd, hy vat sy tyd!

en stap so wyd en vat sy tyd! ens.ens.

Nou dans hul dat die stof so trek.

Boem, boem, boem! Ting, ting, ting!

Daar kom hy aan! Daar kom hy aan!

Hy spalk sy been, hy staan nou drink.

Boem, boem, boem! Ting, ting, ting!

Hier kom hy aan, hier kom hy aan!

Hy trap—een poot hier en een poot daar!

Hy trap—een poot hier en een poot daar!

met een poot hier en een poot daar! ens.ens.

Nou steun hul soos hul dans.

[Inhoud]

Die Springbok se Dans.

Met die uitvoer van hierdie dans word gepronk en getrippel nes ’n springbok.

Hy trippel bietjie saggies; hy trippel bietjie saggies.

Daar wip hy! Hy wip so![193]

Hy trippel bietjie saggies; hy trippel bietjie saggies.

Daar wip hy! Hy wip so!

Kom trippel nou so, kom trippel nou so!

Trippel, trippel, trippel nou so!

Trippel, trippel, trippel nou so! ens.ens.

Daar wip hy! Hy wip so! Hy wip so!

Hy skoffel baie saggies; hy skoffel baie saggies.

Daar spring hy! Hy spring so!

Hy skoffel baie saggies, hy skoffel baie saggies.

Daar spring hy! Hy spring so!

Kom skoffel nou so, kom skoffel nou so!

Skoffel, skoffel, skoffel nou so!

Skoffel, skoffel, skoffel nou so! ens.ens.

Daar spring hy! (Klop) Askoek af, askoek af!

[Inhoud]

Die Kwagga se Dans.

Die kwagga hier bedoel, is wat die geleerdes sebra noem; so word van die gestreepte kwagga en die vaal kwagga gepraat. Hierdie riel is ongeveer dieselfde as „Die Witpens-os” van die Hottentots—in ieder geval, die musiek verskil min.

Die bont-streepperd, die bont-streepperd!

Sy nek die krul, sy hurke dril.

Die bont-streepperd, die bont-streepperd!

Sy voorpoot buig, sy ore klap;

Hy skop sy stert, hy roggel só:[194]

Roggo! roggo, roggo, roggo!

Roggo! roggo, roggo, roggo! ens.ens.

Die wit-streepperd, die swart-streepperd!

Hy wei op gras, hy drink sy taks.

Die wit-streepperd, die swart-streepperd!

Hy byt na grond, hy skop die son:

Poeko! poeko, poeko, poeko! ens.ens.

Die kuifkop-perd, die kuifkop-perd!

Sy poot is rond, sy klou die klop.

Die streepkop-perd, die streepkop-perd!

Hy kap te net, hy draf te mooi:

Poeko! poeko, poeko, poeko! ens.ens.

[Inhoud]

Die Toktokkie se Dans.

Die toktokkie is ’n gogga wat baie op ’n miskruier lyk; maar sy agterlyf is swaarder en ronder. Waar hy loop, klop hy op die grond en maak ’n tok-tok geraas—vandaar die naam.

Hy soek na sy vrou

En soek na sy kind;

Hy soek na sy kos,

En sy water is op.

Hy tok-tok, hy tok-tok,

Hy tok-tok, hy tok-tok. Ens.ens.

Hy soek na sy vrou

En soek na sy kind.

Hy tok-tok, hy tok-tok. Ens.ens.

[195]

Hy klop met sy lyf

En hoor met sy oor.

Hy soek na sy vrou

En soek na sy kind.

Hy tok-tok, hy tok-tok.

Hy tok-tok, hy tok-tok. Ens.ens.

Hy soek na sy kos,

En sy water is op.

Hy tok-tok, hy tok-tok.

Hy tok-tok, hy tok-tok. Ens.ens.

//stawhoph.com/4/4051934